
Ek kyk na die Engelsman daar waar hy met sy Whiskey ‘eish’ en water in die hand voor die kaggelvuur sit.
Eksdom het ten spyte van Emmawillielênie se finansiële penarie, weer grasie gegee en omdat ons nou weer elektriese krag en water het, is die vrieskas vol ‘eish’. As ek sê vol bedoel ek vol, want die Engelsman wil nie weer onkant gevang word nie en het goed voorbereiding getref vir die onverwagte, of sal ek sê verwagte.
En vanaand is hy doodgelukkig en in ‘n gesels bui.
In die geskiedenis is daar baie dinge wat gesê is deur persone wat vandag nog aan hulle toegedig word.
Daar was Marie Antoinnette van Frankryk wat gesê het ‘Gee vir hulle koek om te eet’, toe haar landgenote honger gely het.
Winston Churchell het gesê: ‘Ons sal hulle in die strate en die loopgrawe beveg’, toe hy die Engelse soldate gedurende die Tweede Wêreld oorlog gemotiveer het.
Jan Brand het gesê: ‘Alles sal regkom’. Hy het nie gesê wanneer nie, want kyk hoe gaan dit vandag nog.
Cecil John Rhodes het gesê: ‘Daar lê ons Hinterland’, terwyl hy noordwaarts in die rigting van Rhodesië gewys het. Ek wonder of hy dit vandag nog sal sê.
Paul Kruger het gesê: ‘Haal uit die verlede wat goed is en bou die toekoms daarop’. Is daar ‘n toekoms?
Die Engelsman neem ‘n slukkie van sy Whiskey, water en ‘eish’ en gaan verder. Deesdae het ons nog steeds dinge wat gesê word en oor ‘n honderd jaar aan die spreker toegedig sal word.
Daar is die ANC met hulle holruggeryde: ‘Dit is apartheid se skuld, of dit is daai Hollander wat aan die Kaap geland het se skuld’. Daai Hollander is ‘n sekere Jan van Riebeeck wat volgens ‘n minister twee duisend jaar gelede aan die Kaap geland het.
Die EFF wat sê Afrikaans’must fall’ al is hulle al vallende uit die parlement verwyder.
Zuma sal weer onthou word vir sy: ‘he he he, Nkandla, Nkondla, he he he’.
Die SAPD se verskoning van, ‘Ons het geen vervoer nie, want Zuma het sy vrouens se karre met ons geld gekoop, daarom is daar nog geen arrestasies gemaak nie’.
Dan is daar ook die Blou Bul rugbyspan wat gesê het: ‘Hier is dan geen waarskuwing kennisgewing wat sê ‘Pasop vir die Leeus’ nie.
Die Engelse sê: ‘Make hay while the sun shines’
Maar diè Engelsman sê: ‘Maak ‘eish’ terwyl ons nog elektrisiteit en water het’.
