
Wat ‘n mooie prentjie, dink ek. Maar die mooie prentjie is nie in die storieboek in my hande nie. Nee, die mooie prentjie is oorkant my daar waar die Engelsman met ons kleinseun op sy skoot sit.
Vanaand is dit Oupa se beurt om vir ons mannetjie ’n slaapstorie te vertel. Oupa vra vir ons mannetjie of hy al die storie van die bose koningin gehoor het. Wel, ek ken vir Sneeuwitjie, Rooikappie, Jan in die boontjierank en ander stories,maar die bose koningin het ek nog nooit van gehoor nie. Daarom luister ek met een oor na die storie van die bose koningin.
En Oupa vertel: Eendag was daar ‘n bose koningin gewees. Sy moes nie eintlik koningin geword het nie, maar die oorspronklike koningin het haar onderdane kwaad gemaak en toe moes sy maar die septer vir dié koningin gee.
Die koningin het in die begin soos ’n oulike koningin gelyk. Maar sy het skaars op haar troontjie gaan sit toe hou sy ’n vergadering met die slim mense van die koninkryk wat haar moet help met besluite wat goed sal wees vir die koninkryk.
In plaas daarvan dat die koningin vir haar onderdane skoon watertjies en elektrisiteit gee om kossies mee te maak, besluit sy, sy wil ’n nuwe karretjie hê. Die karretjie is baie duur, maar die koningin, wat die septer nou al styf vashou, wou nie luister nie en het steeds aangedring op daai nuwe karretjie.
Die bose koningin het al haar truuks by die groot koning, wat oor die hele land regeer geleer.
Die groot koning, wat nie eers kan tel nie het sy onderdane se geldjies gevat en vir hom ’n paleis gaan bou. Die paleis se naam was Nskandalig. By die paleis het hy ook krale en damme gebou.
Die koning se onderdane het ook ‘n groot stoor gehad waar hulle hul ‘charcoal’ vir die winter gebêre het. Hulle het die stoor Eskom genoem. Die koning het al die gestoorde ‘charcoal’ gevat en dit verkoop.
Sy onderdane het ook ‘n stoor gehad waar hulle, hulle spiese, knopkieries en asgaaie gebêre het. Hulle het die stoor Denel genoem. Die koning het sommer al hulle spiese, knopkieries en asgaaie gevat en ook verkoop.
Dit het nie daar opgehou nie. Die koning se onderdane het ook ‘n stoor gehad waar hulle, hulle ossewaens en donkiekarre gestoor het. Hulle het die stoor Prasa genoem. Die koning het wraggies gegaan en al die ossewaens en donkiekarre ook verkoop.
Al die geld wat hy vir die ‘charcoal’, wapens, ossewaens en donkiekarre gekry het, het hy vir homself gehou. Hy het vir sy onderdane gesê dat hy die baie geld nodig gehad het om vir sy baie vrouens motors en sy baie, baie kinders klere te koop.
Ek kyk van my boek af op toe die Engelsman nie verder vertel nie.
‘Mannetjie slaap, jy kan hom nou maar in sy bed gaan neerlê’ seg die Engelsman toe hy my vraende blik op hom voel.
Ek sit en verwonder my oor dié storie en wil graag weet of daar nie ’n goeie feë is wat die bose koning en bose koningin sal kom uitsorteer nie?
Maar terwyl ons wag vir die goeie feë het die onderdane baie kwaad geword, maar hulle kan nie soos die Israeliete pad vat en trek nie. Hulle families is hier, so ook hulle besighede en hulle katjies en hondjies.
Hulle word toe so ‘opgestres’ hulle maak vuur en dans en sing, seker om die stres te verlig.
Of die koningin toe besluit het om haar ou karretjie te hou en vir haar onderdane water te gee, dis ’n slaaptydstorie vir ’n volgende keer.
