BlogsOpinion

Geld wat stom is

Ek is seker duisende ander inwoners voel soos ek en dis hoekom ek hierdie woede, ongeloof en absolute verbasing in my eie ink neerpen.

Ek skud my kop wanneer ek na die ‘spaargeldjies’ kyk wat die mislikepaliteit gaan gebruik om Lindiwe se kar mee te koop.

Ek is seker duisende ander inwoners voel soos ek en dis hoekom ek hierdie woede, ongeloof en absolute verbasing in my eie ink neerpen.

Hoe op aarde kan daar ’n paar sent ekstra wees om Lindiwe met ’n R1.5-miljoen kar te bederf as ons nog steeds week na week sukkel met elektrisiteit en leë krane.

Dit gaan my verstand te bowe dat daardie ‘spaargeldjies’ nie ’n ander gaatjie kan toestop nie.
Is dit net ons, die inwoners van hierdie eens pragtige steenkoolstad, wat sien hoe hierdie stad agteruitboer?
Ek en die Engelsman het oor die naweek van een punt van die stad op die Bethal-pad na die ou Middelburgpad gery en ons daarop toegespits om iets positiefs raak te sien.
Nodeloos … ons soek nog steeds.

Dit is wat besoekers sien wanneer hulle deur eMawillielênie ry.
Op die vertrekpunt skop ons af met vuil sypaadjies en verkeerseilande en verkeersligte wat nie kan knipoog nie, dis buite werking of die krag is af.

Hier naby die Southfork-sentrum is dit net bierbottels en sigaretstompies in plaas van helder ‘hallo-welkom-by-ons’ blommetjies en struike op die verkeerseilande.

Op die ou-Swartbosbrug is ’n stuk van die brug se reëling met ’n ou sinkplaat of iets wat lyk soos ’n ou stuk staal gelap waar iemand amper daardeur gery het.

Selfs die polisiestasie laat my, my kop sak in skaamte. Hierdie is ons manne en vroue in blou, maar daardie gebou van hulle wat seker vyf jaar terug afgebrand het staan nog net so. Hier moet die polisie inisiatief neem en hul direktorate gaan vra om te help om die gebou weer te herstel of te sloop.

So padlangs kyk ek op en al die ligte in die hoofstraat brand helder oordag. Eskom, hoekom beboet julle die plaaslike stadsraad nie? Dit is hulle wat jul elektrisiteit vermors en julle ook nog miljoene skuld.
So ry ons verder langs onversorgde sypaadjies tot by Secondstraat waar ’n hopie sand ons groet. Hier moet ons omdraai want die bruggie wat verlede jaar al weggespoel is staan nog net so.

Theo en maatjies, as julle nie weet wat om met die R1.5-miljoen te doen behalwe om vir Lindiwe ’n nuwe ryding te koop nie, ry saam met my. Ek is ’n leek, maar ek weet hoe om my sente om te draai en gaatjies toe te stop. Kom drink ’n koppie koffie saam met my en ek sal julle wys hoe om daardie ‘spaargeldjies’ wys te spandeer.

Soso altyd moet die Engelsman ook die laaste stukkie ‘eish’ in die knertsie gooi, “Dit gaan meer as ’n koppie koffie vat om die mislikepaliteit reg te help. Geld wat stom is, maak mos reg wat krom is …”

Maar hierdie R1.5-miljoen is nie stom nie, want ons as inwoners van hierdie stad weet mos nou wat julle met jul ‘spaargeldjies’ wil maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button