BlogsOpinion

Die wonder van kind wees

“Ek het vir ouma ’n geskenk, kyk ek het dit self opgetel.”

Elke keer as ek die ink deur my vingerpunte drup en ek emosies en begrippe op papier vaslê ontbloot ek ’n stukkie van myself. Het ek soos al die ander mede inwoners van die stad so gefokus geraak op die negatiwiteit dat ek vergeet het om die stukkies mooi tussenin te sien.

Sondagaand was ek in die gehoor tydens ’n Kerssangfees en daar het ’n kind se blink ogies my laat besef ek is vasgevang in ’n rondomtalie afwaartse spiraal van negatiewe denke.

Op ’n stadium het ds. Frans Steenkamp van die Trappieskerk ’n stukkie opgevoer saam met een van die jong seuns van sy gemeente, Franco wat die rol van St Niklaas gespeel het.

Ds. Frans vra toe wie weet wie St Niklaas is… iewers agter klink daar ’n helder stemmetjie op “Kan dominee nie sien nie, dis Franco dominee”. Uiteraard moes ds. Frans ’n hele paar oomblikke vat om die lagbui wat dreig om uit te borrel te onderdruk.

Die gemeente het egter nie op hulle laat wag nie maar geskaterlag.
Dit het my laat besef kinders is rein. Hulle is onbewus van apartheid en kleur, swak dienslewering, die waarde van geld, oorloë, orkane en vloede.

Vroeër die week het ek my hartklop by die kleuterskool gaan haal. Hy het ’n stofstreep op die wang gehad, sy oë blink van opgewondenheid, hy het sy vuil handjie in sy broeksak gedruk en tussen sand en grassies twee klippies uitgehaal.

“Ek het vir ouma ’n geskenk, kyk ek het dit self opgetel.”

My klippie-kind hoe graag wil ek jou nie klein hou nie, jou beskerm van die wrede lelike grootmenswêreld waar venyn en haat hoogty vier.

My klippie-kind die seisoene is in ‘fast-forward’ gedruk. Ons stap nie deur die seisoene van ons lewens nie, ons jaag teen ’n hoë spoed daardeur. As jy weer jou ogies uitvee is die lente, die somer, herfs en winter verby en begin ons die siklus van vooraf, maar dan deur ander oë weg van die onskuld van ’n kind af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button