BlogsOpinion

So leer ons waardevolle lesse

Langs mekaar swart en wit het die mense vir my dieselfde vertel.

Die afgelope twee weke het inwoners in een stem hul misnoeë met die stadsraad gegee. Na hulle 10 dae sonder elektrisiteit gegaan het, het hulle ’n pad geblokkeer tot die mislikepaliteit gehoor gee. Wat die ook toe nou gedoen het, want hierdie keer het die inwoners voet by stuk gehou en geweier om op te gee tot werk aan die elektriese kabel begin het.

Ek was heel verbaas toe ek hoor wit en swart inwoners toi-toi saam. Dit gebeur mos nie.
Maar hierdie keer het die gemeenskap voor ’n krisis gestaan en saamgestaan om hul stemme te laat hoor. ’n Hele paar dosyn stemme is mos baie beter as net een of twee.

Die eerste protesaksie het in gietende reën plaasgevind en tydens die tweede het die son genadeloos op die singende en dansende groep mense gebrand.

Selfs die onderhoud met die inwoners was nie waaraan ek gewoond was nie. Langs mekaar swart en wit het die mense vir my dieselfde vertel.

Die huisvrou, die besigheidsman, die werkende mamma, die entrepreneur, die sportman, die pensioenaris almal is geraak deur die swak dienslewering deur die mislikipaliteit van Emmawillielênie.

Een en elk moes kos weggooi want dit het vrot geword, een en elk moes aand na aand in koue water bad, wasgoed het opgehoop en kosmaak op ’n gasstofie of ’n vuurtjie was die enigste uitweg want wegneem etes is net te duur.
Toe die mislikepaliteit onder administrasie geplaas is, was daar ’n flikker van hoop dat alles sal verbeter. Maar die harde werklikheid is dat die stad se infrastruktuur moeg is.

’n Bietjie las hier en ’n lasplekkie daar vererger net die situasie. En daar is nie geld om alles reg te maak of ’n kitsoplossing om die stad uit sy penarie te haal nie. Terwyl Eskom elke sent opslurp gaan ons met nog sulke situasies soos Jackaroo sit.

So sit die Engelsman en luister, hy moet ook natuurlik ’n ‘eish’ by die whiskey gooi en seg die mislikepaliteit is besig om ons dissipline te leer. Agtuur in die aand sit hulle ligte af, dan moet ons bed toe. Hulle wil ons ook daarop wys dat familietyd baie waardevol is daarom is daar geen elektrisiteit vir die televisie oor naweke nie, so pa moet nou saam met die kinders buite speel. Hulle leer ons van gesond eet en daarom word ons genoodsaak om meer rou groente en vrugte te eet en ons vleis op die kole in plaas van olie te braai.

Die belangrikste les wat hulle ons leer is dat ’n gemeenskap kan saamstaan en ’n verskil maak.
Daarom gee ek vandag vir die inwoners van Jackaroopark ’n staande ovasie en ek hoop baie meer gemeenskappe volg in hul voetspore.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button