
Dit was die afgelope naweek chaos.
Die hele Emmawillielênie was in donkerte gehul en om die kroon te span, die krane was kurkdroog.
Die Engelsman se huishouding was op sy kop, want hy was besig om die garage se vloer te gooi toe die kraan met so ’n kroep-kuggie die laaste druppeltjie uitstoot.
Oh ja, ons het al mooi geleer en ons het alternatiewe water, maar om die kragopwekker uit die stoor te gaan haal waar alles ingegooi was om spasie te maak vir die nuwe vloer was ’n onbegonne taak.
Nodeloos om te sê, daardie vloer is met ’n paar sterk gevleuelde woorde gegooi.
Maar soos altyd sien ons die glas eerder half vol as half leeg.
Toe die wolkies so styf teen makeer begin vryf en die donderweer grom, haas die Engelsman hom na buite en sit ’n skottel neer. So vang hy toe nou maar reënwatertjies op want die Whiskey en ‘eish’ moet so bietjie afgewater word.
Toe die donker nadersluip en ons omhels, was ons pondokkie die helderste beligte huisie in die straat net omdat die Engelsman vooruitgedink het.
Toe Eskom aankondig hulle het nou genoeg gehad en gaan ons sny, toe maak die Engelsman ’n plan.
Hy het ’n tweedehandse sonpaneel aangekoop en aan ’n ou battery gekoppel. Gedurende die dag word die batterye gelaai en as die krag uitgaan, om watter rede ook, sit hy die ‘gratis’ ligte aan.
Die hele gedoente die afgelope naweek was ’n proeflopie van wat op ons wag. Die Engelsman het alles getoets en ons is reg vir Eskom wanneer hulle af ‘switch’.
Ons is vinnig om Eskom te balmeer en dieselfde tyd Mr Fix-It ook aan die galg te hang en kaalvuis in te klim en die blaam op almal te plaas.
Maar staan ’n tree terug en kyk hoe ons in hierdie penarie beland het.
Hierdie probleem is ’n erfporsie omdat inwoners en besighede te lank weggekom het met wanbetaling.
Maar die fout lê ook by die mislikepaliteit wat toelaat dat herehuise een na die ander opskiet en tog word daar nie toegesien dat meters ook opgerig word nie. Die mense sal skrik as hulle weet hoe oorlaai die netwerke is en dat daar net blindelings toegevoeg word. Buiten die oorlaaide netwerke is daar ook tekort aan personeel om ordentlike instandhouding te verrig. Het jy al probeer om een maand nie jou rekening te betaal nie, hoe vinnig word jy nie afgeskakel nie en dan moet jy nog ’n boete betaal voordat jy weer aangeskakel word, terwyl daar mense vrylik krag gebruik sonder enige betaling.
Die steel van elektrisiteit is ook ’n groot faktor in ons krag krisis. Eskom alleen moet nie die blaam kry nie, maar die mense wat wegkom met hemelhoë rekeninge en die mislikepaliteit wat links en regs ja sê vir nuwe ontwikkelings se leisels moet bietjie ingetrek word.
Intussen hou die Engelsman maar die skotteltjie buite sodat hy ’n paar druppeltjies water kan opvang vir sy Whiskey sonder ‘eish’ want die ysmasjien is nog nie aan die sonpaneel gekoppel nie.
