
Ek het al aandele in insekdoder maatskappye. As ek die inkopielysie saam stel staan daar heel eerste in hoofletters geskrywe DOOM.
Kyk, ek het nou al alles probeer maar hierdie lyk my is een geveg waar ek die handdoek moet ingooi.
Honderde, miljoene, biljoene miertjies het by ons begin plak.
Nog voordat ’n krummeltjie op die grond val staan hulle kietsregop reg om dit te vang en na hul uitgevrete, vet koningin toe aan te dra.
Dié sit net en vreet en lê eiers, nog ’n triljoen klein miertjies wat gevoer moet word. Dit laat my aan die politiek dink, maar dis ’n geselsie vir ’n ander dag.
Daar is nie een boereraat wat ek nog nie probeer het nie.
Babapoeier is oral gestrooi, ek het al rissiepoeier gegooi, komkommerskil neergesit, mintblare in warm water getrek en vir die onwelkome gaste teetjies gemaak, liters en liters asyn uitgegooi en so kan my lys aangaan.
Ek het die ‘chalk’ gevat en ’n sirkel om die huis getrek en sommer so op die hoeke en lyste ook getrek. Ek dink daai miere is kleurblind, hulle huppel sommer so oor die ‘chalk’.
Dis nou waar ek die streep letterlik en figuurlik getrek het.
Ek is nou al op pad om hoenders aan te skaf, hulle gaan die mier-spyskaart geniet.
Terwyl ek nou so sit en die hele miernes van bedrywighede bekyk soos hulle my koskaste leeg dra kom die bybelversie by my op. In Spreuke 6:6 lees ons in die ou vertaling van die Bybel: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.”
Ons kan baie by die klein peste gaan leer oor produktiwiteit en hoe om voorsorg te tref vir die dag van môre.
Terwyl my gedagtes saamflans oor die klein pestilensies, hoor ek die Engelsman se ‘eish’ in sy Whiskey rinkel.
Seg hy, gelukkig weet hy ons miere hou nie van Whiskey nie omdat hy nog nie een naby sy kwota gekry het nie.
Ek wou nog ’n woordjie inkry, maar besluit om eerder stil te bly.
Hierdie miere is al so windgat en eie in ons pondokkie. Hulle moet nog net swemlesse gaan neem dan is die Engelsman se kwota ook in gevaar.
