
So vind die uwe haarself op ’n Vrydagmiddag in ’n raadsvergadering. In ons joernalistieke-wêreld is daar altyd opwinding en jy kan nooit regtig jou dag vooruit beplan nie. Dit was Vrydag se geval.
Ek wou nog vroeg huis toe gaan, ’n glasie ‘rooswatertjies’ skink, die skoene uitskop en ontspan toe ek van die vergadering te hore kom.
Skoene aan, ‘rooswatertjies’ terug in die yskas, notaboek onder die arm toe meld ek aan.
Vir die wat nou al vertroud is met die parlementsitting, hierdie vergadering was ’n sterk mededinger vir sirkus van die jaar.
Die rede vir die ’dringende’ vergadering was die kragreus se rekening en hoe die munisipaliteit gaan probeer om dit te delg.
Die aanloop voor die vergadering was ’n vergadering, nog ’n vergadering en nog ’n vergadering waarvan ek en jy betaal vir die kostes om die munisipale bestuurder, die burgemeester en die finansiële ouens daar te kry, betaal.
Tydens een van die vergaderings het die premier van Mpumalanga, David Mabuza uitgevaar teen Eskom en gesê dis onaanvaarbaar dat munisipaliteite grond verkoop om hul skulde te delg.
Ons eie mislikepaliteit het ’n stuk grond teen R250-miljoen verkoop. Die geld gaan aan Eskom gegee word om hulle bek stil te maak. Hierdie kort termyn oplossing het ’n reaksie in die raadsvergadering ontlok. In die raadsaal is die ANC raadslede elk 70 sekondes gegun, die Demokratiese Alliansie elk 45 sekondes en die vier EFF raadslede elk 20 sekondes om hul mening te lig oor die grondkwessie.
Die vrou wat die goue ketting dra het almal stilgemaak en gesê die stadsraad is bankkrot. Iewers moet hulle geld vandaan kry dis hoekom hulle nou grond begin verkoop.
Dis nou waar ek met die glasie ‘rooswatertjies’ moet sit en die hele saak begin oordink.
Soos dit nou aangaan het ons een van die dae nie meer sypaadjies of parke, nie dat dit na omgesien word nie, oor nie.
Met die infrastruktuur wat dreig om mee te gee en almal wat kla oor leë krane en donker aande, hier kom ’n ding. Die mislikepaliteit kan nou nie eers aan die inwoners se daaglikse behoeftes omsien nie, die stadsraad se rekeninge afdeling is ’n gemors en tog verkoop hulle grond vir nog ontwikkeling.
Ek weet nie waar hulle water gaan kry of selfs elektrisiteit om nuwe aanbouings te akkommodeer nie, maar verkoop, verkoop ons.
In dieselfde teugie wil ek byvoeg dat inwoners ook nie almal hul kant bring nie. Daar is nog baie huishoudinge en besighede wat met agterstallige munisipale rekeninge sit en dit is een van die groot redes hoekom die kragreus ons so boelie.
Intussen skarrel die munisipaliteit om R22-miljoen bymekaar te skraap om Eskom die maand gelukkig te hou.
Ek wonder nou watter lappie grond is volgende te koop?
