
Dit is nou maar een ding van die Engelsman, hy kan partykeer met die snaakste idees vorendag kom. Van sy idees is soms lagwekkend, soos nou die dag toe hy voorspel het dat die Blou Bulle die Superrugby-reeks gaan wen.
Van sy idees is soms verstommend. Soos nou die aand toe ons twee in ‘n donker sitkamer voor ‘n morsdooie TV, danksy Eksdom, sit, ek met ‘n soetetjie en hy met sy gebruiklike drinkdingetjie met ‘eish’. Hy sê toe so ewe ernstig, “kom ons doen aansoek om op die maan te gaan bly”. Gelukkig was die sitkamer donker en kon hy nie die verbasing op my gesig sien nie, daarom gaan hy ongestoord en ernstig voort.
“Dink net as ons op die maan bly het ons geen lastige bure wat ons heeldag deur die kombuisvenster beloer nie en wie se honde nie hul landmyne op ons grasperk sal los nie.”
Terwyl ek nog dink waar die gras op die maan vandaan sal kom neem hy ‘n slukkie en gaan dan, “dink net, daar sal geen dolle verkeer wees nie en daar sal geen stadsrumoer wees nie. Alles sal rustig wees. Die lug sal nie besoedeld wees nie, want daar sal geen Eksdom kragstasie wees nie. Daar sal nie betogings wees nie. Glad nie ‘n getoi-toi en die afbrand van skole nie. Op die maan sal ons nie ‘n Jacob hê wat sy ‘nSkandalig’ vir ‘n tent op die maan verruil nie. Daar sal ook nie ‘n tesourier wees wat besteel kan word nie. Ek glo in elk geval nie daar is ‘n ruimtetuig groot genoeg om hom, sy harem vrouens en dosyne kinders maan toe te vervoer nie.”
Hy neem nog ‘n slukkie, “daar sal ook nie Guptas wees nie, want ek glo nie daar is steenkool of uraan op die maan nie.”
Omdat die sitkamer donker is kon die Engelsman nie die frons wat skielik op my voorkop gevorm het, sien nie. Miskien, dalk net miskien, is die Engelsman se idees dalk nie so vergesog en verstommend nie. Vanaand as hy slaap sal ek Google of daar miskien in die nabye toekoms ‘n vlug maan toe is. Mens weet nooit! Ek stap na buite om na my toekomstige tuiste te gaan kyk. Dit is donkermaan. Nee wat, dink ek, ons bly maar hier in Emmawillielênie, Eksdom is blykbaar reeds op die maan.
