
Die rekeninge is steeds ’n aborsie. Die mislikepaliteit is van mening dat hul finansiële sisteem moeilikheid in Februarie uitgesorteer is, maar inwoners van die Steenkoolstad ontvang nog al die pad rekeninge wat wriemel van foute.
Iemand is besig om vir iemand te lieg en inwoners lei daaronder.
Met ’n soetetjie wat my flenters senuwees moet kalmeer oor die rekeninge situasie en ’n whiskey en ‘eish’ op water vir Engelsman wat stres omdat my senuwees aan flarde is, gesels ons oor die huidige stand van sake in ons sonskynland.
“Jy kan maar vier skole afbrand in vyf dae of Riebeeck Kasteel vandaliseer, ’n polisiestasie plunder, teerpaaie opneuk terwyl jy bande brand en niks gaan aan jou gedoen word nie,” seg die Engelsman nadenkend.
“Jy kan Eskom tot op sy knieë dwing en weer beurtkrag inisieer en dis ook ok.”
In die Steenkoolstad versuim die mislikepaliteit om die kragreus te betaal en dis maar aanvaarbaar.
Maar in realiteit is dit ’n somber prentjie. Daardie skole, Riebeeck Kasteel, die polisiestasie en teerpaaie gaan die belastingbetaler miljoene kos om reg te maak. Daardie geld kon aangewend word vir opgradering van die gesondheidsorgsektor of die onderrig.
Eskom bly boos vir Emmawillielênie en die mislikepaliteit is boos omdat inwoners nie hul rekeninge betaal nie.
Maar hoekom sal die inwoners hul rekeninge vereffen as dit nie duidelik is waarvoor hulle betaal nie.
Dis soos om ’n pakkie toffies te koop en as jy by die kasregister kom is daar ’n helse prysverskil. Wie van ons gaan nie ’n bohaai opskop nie?
Die afgelope twee weke het ek baie inwoners se rekeninge onder oë gehad en dis voor die hand liggend dat die finansiële sisteem nog nie uitgesorteer is nie.
Wakker word mislikepaliteit – inwoners sal vinnig na die volgende kafee toe gaan om toffies te koop as julle nie jul sisteme in plek kry nie.
