Snaaks genoeg, dit pla my nie soveel nie. Wat my pla is hulle houdings!
Ek hoop inwoners weet darem nou al van ons vyf Rizpah Kinderhuise in die stad! Een Saterdag was dit weer blikskud vir ons om meer sigbaar te wees. Ons staan toe so met ons pienk hempies en ons blikkies.
Saam met my is daar ‘n man met ‘n blikkie. Ek vra toe vir hom vir wie samel hulle geld in (let wel, hulle is van Springs). Ek vra toe hoekom kom steel julle dan van eMalahleni?
Hy vra my vir wie samel ons geld in. Nou ja, vir ons kinderhuise. Sy kommentaar: “Wat doen julle dan vir die ouers van die kinders wat julle wegvat?” My bloedjies raak toe warm. Ek is nie hardvogtig nie, maar wat ’n simpel vraag! Ek weet wat ek sou wou doen…..
Na ‘n rukkie haal hy sy ou fopspeentjie/suigpypie – sigaretjie uit (volgens my rook net ryk mense, want ek kan rook nie bekostig nie!) Ek vra hom as hy bedel, hoe kan hy bekostig om te rook? Hoor nou die gevatte antwoord: “Ek kan met my geld doen wat ek wil!”
Dus, geagte bedelaars van Springs, dis tyd dat eMalahleni ook kan doen met ons geld wat ons wil. Vir ons is ons kinders goud werd.
WITBANK NUUS-leser, gee eerder vir ons kinderhuise of White Rose of Jabez Huis hier in ons eie dorp.
As ons 500 inwoners kry wat elk net ’n R100 aftrekorder teken vir Rizpah, hoef ons ook nie met ons pienk hempies te gaan staan en bedel vir ons kinders nie (hoewel dit baie pret is).
Net vir inligting, ons het afsonderlike Afrikaanse- en Engelse kinderhuise.
Vir meer inligting oor ons Kinderhuise, kontak vir Anet of Magriet by die Christelike Maatskaplike Raad: 013 692 4862.