Paasfees vra eerder wie Jesus vir joú is
Ds Hennie van den Heever from the NG Kerk, Empangeni shares his Easter message. NG Kerk - Empangeni

Wie was Jesus regtig? is die titel van ‘n boek wat verskyn het in 2007 en geskryf is deur Francois Wessels in ‘n gespreksreeks oor die historiese Jesus.
Die boek help mens om na al die verskillende historiese weergawes van Jesus te kyk en met blymoedigheid te besef dat die Jesus van die Christelike tradisie meer betroubaar is as wat die opspraakwekkende Jesus-uitsprake van die 1990’s ons van wou oortuig.
Verder versterk die konsensusvorming oor wie Jesus regtig was ook die betroubaarheid van die Evangelies en die Pauliniese briewe as fundamentele tekste.
Paasfees wil egter verder gaan as om net te berus in die gevolgtrekkings van geleerdes dat Jesus en die Bybel geloofwaardig is.
Die boodskap van Paasfees wil eerder vra wie Jesus vir joú is. Paasfees is verskriklik persoonlik.
Dit gaan oor die persoonlike verhouding tussen Vader, Seun en Gees.
Dit gaan oor die hartklop van God vir Sy verlore kosmos. Dit gaan oor ‘n omvattende reddingsplan op jou lewe, die lewe van ons elkeen.
Dit gaan oor die persoonlike uitdaging wat Jesus aan jou stel om jou lewe aan die hand van Sy lewe te oriënteer, want dissipelskap is immers om hom passievol te volg omdat jy in sy dood gedoop is.
Passie beteken dat jy met nugter verstand en ‘n brandende hart agter Jesus aan strompel omdat niks anders vir jou belangriker is as om Hom te ken nie.
Paasfees wil ons troosvol herinner dat ons die opgestane Jesus sal ontdek op plekke waar ons Hom nie verwag nie en sal ervaar dat die lewende Here in die midde van ons ontredderde situasies steeds verskyn as die een wat ons groet: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende’; en saam met Paulus onthou dat dieselfde kragtige werking wat Christus uit die dood opgewek het, werk in die harte van ons wat glo.
Dit roep ons op tot ‘n opstandingslewe!
Sal Jesus en Sy bruid die sekulêre paashaas oorlewe? (Chesterton): ‘Die Christendom het al dikwels gesterf en weer opgestaan.
Christene glo immers in ‘n God wat die pad uit die graf ken’.
Ds Hennie van den Heever
NG Kerk – Empangeni
