Local newsNews

50 gelukkige jare vlieg vinnig verby

Met die Genade is ons nog selfversorgend en selfonderhoudend,” het hulle gesê.

Buks (73) en Petro (68) le Roux van Verwoerdpark vier op 4 Julie hulle 50ste huweliksherdenking. Dié twee het in 1983 na Alberton vanaf Krugersdorp getrek.

Petro het vir Buks deur haar stiefbroer ontmoet.

“Buks was ‘n vakleerling saam my broer en daar het ons liefde begin blom,” het sy vertel. Hulle is in 1970 in die NG Kerk in Luipaardsvlei in Krugersdorp getroud.

“Toe ons destyds getroud is, het dit gegaan oor die huwelik en nie oor die troue nie,” het hulle vertel.

“Dit was nog maklik en goedkoop om in ons tyd te trou. Ons onthaal was in die kerksaal en ek onthou dat in daardie tyd het die meer welaf mense in die buurt ‘n dans-troue gehou in die Jubileumsaal, wat ook in Luipaardsvlei was. En die heel rykes het die stadsaal gehuur.

“Daar was nie al vandag se gedoentes met ‘n deftige lokaal, troubeplanner, feëtjieligte en al die goed wat so verskriklik baie kos nie,” het Petro gesê.

Liefde soos geen ander

“Toe ons jonk was, het ons handjies vasgehou omdat dit lekker was om aan mekaar te vat. Nou hou ons handjies vas om te keer dat die ander een nie omval nie, want dit gebeur nogal maklik op ons ouderdom,” het Petro laggend vertel.

Die egpaar het twee kinders en ook een pleegkind grootgemaak. Vandag is hulle gunsteling noemname ‘ouma’ en ‘oupa’ en hulle kleinkinders is hulle alles.

“Met die Genade is ons nog selfversorgend en selfonderhoudend,” het hulle gesê.

Raad vir jong getroudes

Al raad wat hulle vir jong getroudes het, is dat die huwelik maar soos ‘n padwedloop is, maak nie saak of jy hom stap of hardloop nie.

“Vir elke opdraande is daar weliswaar ‘n afdraande, maar die afdraandes is nie noodwendig beter of makliker as die opdraandes nie, want nou moet jy briek en jou knieë knak. Maar jy byt vas, want die eindstreep is wel daar voor iewers.”

Hulle wenresep was vasbyt en baie geduld.

“En sonder dat jy dit besef vlieg die lewe verby jou. Net nou die dag was ons nog jonk en nou is oud. Waardeer elke oomblik saam met jou maat,” het hulle vertel.

Toekomsplanne

Wat toekomsplanne betref, wonder die twee hoeveel tyd hulle nog oor het. Maar hulle oorweeg dit nou al die afgelope vyf jaar om hulle huis te verkoop en in Hartenbos te gaan bly, maar Petro moes nog werk.

“Ons was hoeka in Januarie soontoe om solank na eiendomme te gaan kyk, maar toe reën dit vir meer as ‘n week wat die huissoek bemoeilik het. Maar dit was goed, want dit was ontsettend droog so vêr as wat ons gery het.

“En ons was skaars terug toe kom die virus, en nou moet ‘n mens en ekonomie eers herstel voordat ons enige planne kan maak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button