Die skole sluit alweer
Terwyl leerders bekommerd is oor wat die toekoms vir hulle inhou voel ouers skole is goed genoeg tegoerus om kinders veilig te hou
Op 23 Julie het President Cyril Ramaphosa die aankondiging gemaak dat die publieke skole weer vanaf 27 Julie sal sluit.
Die sluiting sal vier weke duur vir alle leerders behalwe matrieks, wat slegs vir ’n week sal sluit en Graad Sewes wat vir twee weke sal sluit. Verder het hy aangekondig dat die skooljaar sal verleng word.
Die REKORD het met leerders, ouers en onderwysers gesels om uit te vind wat hulle oor die aankondiging te sê het.
Onseker oor toekoms
Die REKORD het met twee matriekleerders, Anné Cloete en Rehan le Maitre, gepraat oor hulle persoonlike gevoelens oor die grendelgreep en die nuwe sluiting wat nou begin.
Beide Anné en Rehan voel dat hierdie breek ’n welkom ene is. Volgens Anné het hulle vandat die grendelgreep begin het reeds hard begin werk om op te vang en selfs vooruit te werk.
“Dit is bietjie van ’n verligting,” het sy gesê. Rehan het bygelas hulle kort die rus. “Die onderwysers moet ook rus,” het Rehan gesê.
Die twee het egter gebieg dat die onsekerheid oor hulle toekoms hulle wel ongelukkig maak.
“Ons soek net datums,” het Anné gesê en verduidelik sy wil weet wanneer sy moet begin leer en fokus op haar eksamens.
Rehan is ook bekommersd oor wat sou gebeur as hy of iemand anders siek word tydens eksamens. Die twee is ook bekommerd dat die toemaak van ander skole hulle eksamens se afstel kan beteken. ’n Groot hartseer vir die twee is die uitmis op baie van die sosiale aspekte van skoollewe, veral sport.
Hulle sien egter ook die positiewe kant van die grendelgreep en hoe hulle hul skoolwerk moes voltooi het. Die dissipline wat hulle moes aanleer sal volgens hulle van baie hulp wees in hulle universiteit loopbaan.
“Tyd saam jou familie is die beste tyd,” het Rehan gesê.
Anné het ook gesê dat dit haar persoonlike verhoudings aangehelp het aangesien daar nou moeite moes gedoen word om met mekaar te kommunikeer eerder as om mekaar net elke dag by die skool te sien.
Een van die min hoogtepunte wat die twee wel sal onthou is die Graad Agt verwelkoming aan die begin van die jaar.
Ouers voel sluiting is onnodig
Die REKORD het met ouers wat hul kinders die laaste keer voor die sluiting van die skole kom oplaai het gesels om te hoor hoe hulle oor die besluit voel.
Die oorheersende gevoel van die ouers af is dat hulle nie verstaan hoekom dit nodig was om die skole te sluit nie en selfs dat dit heeltemal die verkeerde besluit was.
Volgens van die ouers is die skole meer as gereed om die kinders veilig te hou en is die nodige berskermingsmaatreëls in plek vir die skole. Hulle het uitgewys dat die nodige toetse gedoen word, die kinders maskers het en dat daar gereeld ontsmet word.
’n Belangrike aspek vir baie van die ouers wat meer gesels was, was dat die sosiale ontwikkeling van hul kinders baie belangrik is. Die kinders is opgewonde om skool toe te gaan en met hulle maats en onderwysers te kommunikeer. Selfs al is dit net ’n paar keer per week is dit belangrik vir die leerders om uit die huis uit te kom.
Ouers het ook gevoel dat dit vir sommige leerders baie belangrik is om van aangesig tot aangesig onderrig te ontvang, terwyl sekere leerders wel hulle werk met afstand-leer kan afhandel is daar die vir wie die nodige aandag van onskatbare waarde is.



