Jan sal gemis word
Jan en Leona was vir 55 jaar, nege maande en 20 dae baie gelukkige getroud.
Familie en vriende van Jan Weideman (82) se harte is seer nadat hy skielik op 20 Julie aan ‘n hartaanval oorlede is.
Volgens sy vrou, Leona, laat Jan ‘n baie groot leemte, nie net in die familie se harte nie, maar ook in die gemeenskap van Alberton.
’n Vol lewe gelei
Jan het op 15 Desember in 1958 vanaf Douglas na Alberton verhuis en baie sal hom onthou omdat hy vir jare lank vir die Alberton Rugbyklub gespeel het.
Selfs toe hy opgehou speel het was hy nog baie by dié klub betrokke. Hy het ook lank as aankoper by Joy Manufacturing gewerk.
“Jan was ‘n mense-mens en hy het diep spore in almal se harte getrap met sy persoonlikheid. Al wat hy nog altyd wou doen en gedoen het was om sy medemens te help en hy het in baie mense se lewe ‘n groot verskil gemaak,” het Leona vertel.
Jan en Leona was vir 55 jaar, nege maande en 20 dae baie gelukkige getroud.
“Hy het ‘n vol lewe geleef en was nooit spyt oor iets nie. Jan was altyd vol liefde en baie positief oor die lewe.” Volgens Leona was sy familie sy alles.
“Hy het altyd alles in sy vermoë gedoen om mooi na sy familie te kyk.”
Jan sal gemis word
Jan laat sy vrou, Leona, twee dogters, twee skoonseuns, ses kleinkinders, twee broers en een suster agter.
“Ek mis hom reeds so baie, veral sy geesdrift vir die lewe. Ek mis sy teenwoordigheid en die manier hoe ek gevoel het wanneer hy my vasgedruk het, maar ek weet dat hy op ‘n beter plek is. “Al wat ek nou kan doen is om aan God vas te klou en aan te gaan met die lewe. Al wat van my Jan nou oorbly, is herrineringe,” het Leona gesê.
Gedenkdiens en bedankings
Jan se gedenkdiens was op 24 Julie vanuit die Volle Evangelie Kerk in Randhart gehou.
“Dit was een van sy wense om veras te word,” het Leona gesê.
Die familie wil graag die geleentheid gebruik om die personeel van die Unie Hospitaal te bedank asook almal wat hulle in hierdie swaar tyd bygestaan het.
“Ek wil vir my twee dogters ook dankie sê vir al hulle liefde en ondersteuning. Dankie dat julle my steunpilare is.”




