Daar is nog mooi om ons
Die strate raak stadig maar seker weer besig vandat almal terug is van hul vakansiebestemmings af.

More gaan die meeste mense terug na hul skole en werke toe — alles gaan weer terug na normaal.
Een van die dorp se laerskole het al reeds vandag hulle graad eens verwelkom en dis hier waar ek, terwyl ek gaan fotos neem het van die nuwe gesiggies, besef het dat daar nog baie mooi rondom ons is.
Ons is deesdae so blootgestel aan al die teespoed wat om ons aangaan dat ‘n mens nie kan help om self negatief te word nie.
Ons word ingelig oor terroriste-aanvalle, korrupsie en misdaad, onder andere.
Ek was al amper oortuig daarvan dat die wêreld nie meer goeie mense oor het nie.
Vandag, toe ek tussen ‘n skare families sit wie aan die skool bekendgestel en verwelkom is, het ek besef hoeveel mense met goeie intensies net hul lewens wil lei.
Uit ontwikkelde besighede, nuwe tegnologie, die mooiste klere, karre, huise en juweliersware, is goeie verhoudings tussen geliefdes die sagste op die oog vir my.
My lewensplan vir myself bestaan nie net uit trou en kinders te kry nie, maar om mammas en pappas te sien wie met hul kinders lag, speel en saam met hulle hierdie nuwe fase van hul lewe betree; dit het my hart onmiddelik laat smelt.
Dit is nie iets wat gekoop kan word nie en tog is dit so waardevol.
‘n Mens kan hulle geluk aanvoel en die hitte in jou hart van die pappa se trotse glimlag vir sy prinsessie.
Die mooiste van alles was dat daar so baie sulke gesinne voor my was en dat hierdie slegs een van duisende sulke skole is.
Miskien is mense nie net agter geld en mag aan nie.
Miskien is daar ‘n hele paar wat net vreugdevolle oomblikke met hulle gesinne wil deel.
My gemoedstoestand is herstel en ek is weer oortuig dat daar steeds mooi in die lewe is, ons moet net op die regte plekke kyk.TB


