Boksburg kraai koning op eerste ligastryd
“Ek het volle vertroue in die afrigters dat hulle gaan leer uit vandag se wedstryd."
Boksburg Rugbyklub het die Valke Peregrine liga op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n oorwinning van 35- 6 teen Reiger Park se East Rand United op 25 Maart by Prince George Park.
Die telling was 16-5 in die tuisspan se guns toe die fluitjie vir halftyd geblaas het.
Boksburg se voorsitter, Rinus van der Linde het verduidelik dit was ‘n redelike toets.
“Die span speel nog nie teen hulle volle potensiaal nie, alhoewel dit ‘n plaaslike derby was, met baie emosies.
“Ek het volle vertroue in die afrigters dat hulle gaan leer uit vandag se wedstryd. Ek wil ook graag vir East Rand United bedank,” het Van der Linde gesê.

Die voorsitter het bygevoeg dat spelers soos Danie Spider Schultz en David en Gary Woolls uitgestaan het.
“Ruan Henning op losskakel het ook die wedstryd vir ons dikteer.”
East Rand United se kaptein, Cameron Rooi, het na afloop van die wedstryd gesê, “Die eerste helfte het goed gegaan en ons verdediging was goed. Ons het net in die tweede helfte foute gemaak, maar op die einde van die dag is dit goeie rugby.
“Ek dink die ouens is positief en ons sien uit na die seisoen. Ons fokus daarop om spangees te bou. Dit is die eerste keer dat ons saamgespeel het,” he hy gesê.
LEES OOK: Brentwoodpark leerling maak naam op die rugbyveld
LEES OOK: Rugbyspan palm twee titels in












