Local news

Einde van ‘n era vir Boksburg VLU

Die tak is in 1960 gestig en het oor die jare goed presteer.

Soos die gesegde lui, ‘alle goeie dinge kom tot ‘n einde’.

Na meer as ses dekades van samesyn en inisiatiewe om kennis en vaardighede te onwikkel, het die Boksburg-tak van die Vroue Landbou Unie (VLU) onlangs ontbind.

Ronel Lombaard, streeksvoorsitter van die VLU Goudrif-streek, het dit aan die Boksburg Advertiser bevestig.

Lombaard het gesê dat die streek besluit het om die tak te sluit weens ‘n gebrek aan lede.

“Dit is vir ons hartseer. Ongelukkig raak die lede ouer en is hul nie meer gesond nie.

“Die tak moes juis afskeid neem van Petra Nelson, wie vir jare die tak se sekretaresse was, nadat sy op 9 April oorlede is. Sy was ‘n dinamiese vrou wat ‘n groot impak by die VLU gemaak het.

“Boksburg se voorsitter, Marinda Janse van Rensburg, het pogings aangewend om nuwe lede te werf, maar jonger mense het ‘n voltydse beroep en hulle skedules is vol,” het sy bygevoeg.

ARGIEFFOTO: Boksburg VLU lede (agter): Alta Prinsloo, Hettie Robinson, Alta Viljoen, Joey Erasmus en Magriet Marx. Voor: Anna Erasmus en Marinda Janse van Rensburg.

Boksburg VLU het vir jare elke eerste Woensdag van die maand om 10:00 by die Klipkerk byeengekom.

Tydens die vergaderings het die vroue onder andere geleer hoe om mikrogolf fudge en Dior rose te maak.

Meer onlangs het die lede ook op ander plekke soos The Rabbit Hole Coffee Café besoek.

Geskiedenis
Die Boksburg-tak is op 10 Januarie 1960 in die huishoudsentrum van ‘n plaaslike hoërskool gestig.

Hierdie vergadering is bygewoon deur 65 vroue, waar 34 onmiddelik deel geword het van die tak.

Nelie Voord was as voorsitter gekies.

Verder het die tak goed presteer op die streekskonferensie in 1971. Hulle het die organisasiebeker verower.

Hulle het ook aan die Randse Paasskou deelgeneem en goed presteer.

“Deur die jare is die tak goed aan die gang gehou,” het Lombaard bygevoeg.

In 2021 het die Advertiser berig dat die tak hartseer was na die afsterwe van Tannie Wilmina Prins.

Prins het by die VLU aangesluit in 1989 en was na ses jaar verkies tot die bestuur. Sy was ook twee keer verkies tot voorsitter en was visevoorsitter vir 14 jaar.

Verder het die publikasie in 2022 berig dat Anna Erasmus vereer was vir 40 jaar se diens tydens die VLU se konferensie te Springs. Dit was op die voorblad.

Alta Prinsloo het ook in 2023 die voorblad van die Advertiser gehaal oor die diep spore wat sy by die tak getrap het.

Prinsloo was vir byna 30 jaar betrokke by die tak. Sy was al die voorsitter van Boksburg asook die Goudrif-streek.

Die VLU bestaan al vir 90 jaar en is ’n nie-winsgewende organisasie wat die volwasse vroue verryk en bemagtig.

Hulle glo in bemagtiging deur vaardighede en kennis met mekaar te deel.

Takke wat deel is van die Goudrif-streek sluit in Jasmyn, Brakpan, Carpe Diem, Dinwiddie, Kempton Park en Nigel.

Vir meer inligting, kontak Lombaard by 083 659 7236.

Lees Ook: Alta trap diep spore by VLU

Lees Ook: Local police officer’s photo being used in extortion scam

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button