Local news

Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand streef daarna om ‘n hoopvolle toekoms te bou

Die Boksburg-tak van Solidariteit Helpende Hand speel ‘n aktiewe rol in gemeenskapsontwikkeling aan die Oos-Rand.

Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand-streek glo vas dat gemeenskapsverandering by die hart begin – by mense wat omgee, uitreik, opbou en bemagtig.

Annerie du Pisanie, voorsitter van die Boksburg-tak, droom van gemeenskappe waar elke mens ’n kans kry om te groei, te floreer en selfstandig te word. Daarom is die streek se visie om gemeenskappe te sien ontwikkel tot bakens van hoop.

“Die streek se missie is om deur volhoubare projekte, opleiding en netwerkvorming mense te bemagtig – nie net om hulp te ontvang nie, maar om self deel van die oplossing te word,” het sy verduidelik.

Helpende Hand Oos-Rand werk reeds saam met verskeie rolspelers in die gemeenskap, insluitend kerke, skole, tehuise vir bejaardes, organisasies vir gestremdes en ander welsynsinstellings. Nou word groter ondernemings ook genooi om in vennootskap te tree en saam te bou aan ’n sterker toekoms vir die streek.

Die streek se projekte is prakties en gefokus op werklike nood. Dit sluit onder meer die verskaffing van kos en noodhulp aan gesinne in krisis in, sowel as mediese ondersteuning aan bejaardes en siekes. Kinders ontvang skryfbehoeftes, klere en voedsel, terwyl bejaardes gereeld besoek en versorg word. Vroue- en gesinsontwikkelingsprojekte vorm ook deel van die organisasie se fokus, asook wol- en handwerkprojekte waar bejaardes produkte maak vir kinders in nood.

Daar word ook gereeld gemeenskapskompetisies en bewusmakingsveldtogte aangebied, en verskeie werkskeppingsinisiatiewe is reeds op die been gebring sodat mense hul vaardighede kan gebruik en ’n inkomste kan verdien.

Volgens du Pisanie lê die klem op die bou van sterk strukture wat volhoubare oplossings bring – dit sluit opleiding, berading, werkgeleenthede en voortdurende ondersteuning in. “Dit gaan nie net oor hulp nie, maar oor hoop, herstel en herlewing.”

Die publiek word aangemoedig om betrokke te raak deur as ondersteuner of vrywilliger aan te sluit, of selfs te help om ’n nuwe tak in hul eie gemeenskap te begin.
“Elke hand help. Elke bydrae maak ’n verskil, en elke mens verdien ’n kans,” het du Pisanie bygevoeg.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek https://oosrandhand.co.za

Lees Ook: Helpende Hand Boksburg herstel waardigheid met projek vir bejaardes

Also Read: Helpende Hand is dankbaar vir skenking

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button