Vreugde vul die lug by Bethlehem Huis van Brood se jaarlikse Kerspartytjie
Daar is reeds planne aan die broei om volgende jaar se partytjie nog groter te maak.
Die reuk van springmielies, die glinster van Kersversierings en die uitbundige lag van honderde kinders het onlangs Van Dyk Park gevul toe Bethlehem Huis van Brood hul jaarlikse Kerspartytjie en Kersboom aangebied het, ’n tradisie wat sedert 2019 die gemeenskap saamtrek.
Kinders het opgedaag met blink oë en blye verwagting en niemand het teleurgesteld huis toe gegaan nie.
Lees Ook: Kersfeesvreugde vir kinders het bystand nodig
Volgens die organiseerder Hettie van Zyl was die 2025-partytjie nie net ’n sukses nie, maar ’n ware viering van kinderskap, gemeenskapsgees en eenvoudige vreugde.
“Bethlehem Huis bedank almal wat betrokke was en ’n bydrae gelewer het om die dag suksesvol te maak. Dit was ’n groot sukses en ons is klaar besig met beplanning vir 2026. Ons wil nóg groter gaan,” het sy gesê.
Hoewel die geskenke van ou speelgoed opgemaak is, het die kinders dit opreg waardeer, iets wat die organisasie se filosofie weerspieël: dat liefde en aandag dikwels meer beteken as die prys van ’n geskenk.
“Vir ons gaan dit daaroor dat kinders net ’n dag kon geniet en hulself kon wees, met baie eetgoed en dat hulle magies vol was,” het Hettie bygevoeg.

’n Dag propvol pret
Die program het weer ’n kleurvolle mengsel van aktiwiteite ingesluit, van gesigverf en waterbalspeletjies tot vrolike optredes deur kunstenaars Franco van Zyl en Betty Jean. Kersvader het ook sy opwagting gemaak en gesorg dat selfs die skaamste kleuter ’n glimlag kry.


Lewensafrigters het ook hul tyd aangebied om ouers en inwoners te ondersteun, en soos altyd het die gemeenskap ruimhandig ingespring om die dag moontlik te maak.
Gemeenskap bly die krag agter die projek
Bethlehem Huis van Brood, onder bestuur van Ansa Mostert, bedien die gemeenskap nie net met Kersvreugde nie, maar deur die jaar.
Lees Ook: Bethlehem Huis van Brood benodig gemeenskap se hulp om kinders te bederf
Op Vrydae deel sy kos uit by haar huis in Van Dyk Park, en in noodgevalle ook op Maandae en Woensdae.
Met 2026 se droom reeds in wording, beloof Bethlehem Huis van Brood se volgende Kerspartytjie om nóg meer glimlagte te bring en meer harte aan te raak.



