Solidariteit Helpende Hand bring weer hoop met tassie-projek
Solidariteit Helpende Hand help 87 Graad Een-leerders vir die skooljaar wat op 14 Januarie begin.
Met nuwe tassies gereed vir gebruik en opgewondenheid wat reeds in die lug hang, is talle Graad Een-leerders in Boksburg nou beter voorbereid om hul skoolloopbaan op 14 Januarie te begin.
Danksy Solidariteit Helpende Hand se jaarlikse tassie-projek wag die nuwe skooljaar vir baie kinders met ’n bietjie meer selfvertroue en hoop.
Lees Ook: Solidariteit Helpende Hand Oos-Rand streef daarna om ‘n hoopvolle toekoms te bou
Volgens Annerie du Pisanie, voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak, het die tak vanjaar 87 aansoeke vir die projek ontvang.
Laerskool Goudrand het reeds tassies ontvang, met verdere uitdelings wat nog by ander laerskole en kleuterskole in die omgewing sal plaasvind.
“Ons is dankbaar dat ons deel kan wees van hierdie projek en ons nuwe Graad Een-leerlinge van 2026 met ’n tassie kan help,” het du Pisanie gesê.
Elke tassie is gevul met basiese skryfbehoeftes om te verseker dat leerders op gelyke voet met hul maats kan begin. Die Boksburg-tak het ook ’n groot skenking van Bybels ontvang, wat saam met die skryfbehoeftes in die tassies geplaas is.
Du Pisanie het almal bedank wat bygedra het tot die sukses van die projek.
Lees Ook: Helpende Hand Boksburg herstel waardigheid met projek vir bejaardes
“Dit maak ’n groot verskil in die lewens van kinders wat nou hul skoolreis aanpak,” het sy gesê.
Die tassie-projek bly ’n belangrike inisiatief wat daarop gemik is om behoeftige Graad Een-leerders toe te rus met alles wat hulle nodig het om hul eerste skooldag met selfvertroue te begin.



