Schools

Myburgh maak geskiedenis as eerste vroulike hoof van Hoërskool Oosterlig

Myburgh se visie vir Oosterlig is om die skool van krag tot krag te laat gaan.

Vir meer as drie dekades is Christi Myburgh deel van Hoërskool Oosterlig. Nou het sy geskiedenis gemaak toe sy aangestel is as die eerste vroulike hoof van die skool.

Myburgh neem die leiding oor van Francois Nel.

Na sy gematrikuleer het aan die Wes-Rand, het Myburgh onderwys aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer.

In Januarie 1987 het sy haar loopbaan by Hoër Handelskool Boksburg begin, waar sy vinnig meriete ontvang het vir haar leerders se uitsonderlike prestasies.

Myburgh, wat RTT aanbied, het verduidelik die skool het na ‘n nuwe gebou geskuif en die naam Hoërskool Oosterlig aangeneem. In 1999 is sy bevorder na departementshoof en in 2011 as adjunkhoof.

Die buitemuurse aktiwiteite waarby sy tydens haar loopbaan betrokke was, sluit in netbal, sagtebal en debutanteballe.

Sy beskryf haar roeping as ‘n onderwyser as ‘n passie wat van kleins af ontstaan het.

“Ek het nooit ander loopbaankeuses oorweeg nie. Ek is dankbaar dat ek myself in hierdie beroep kan uitleef,” het sy gesê.

Die aanstelling as hoof is vir haar ‘n groot eer, en sy erken die groot nalatenskap van haar voorgangers.

Myburgh se visie vir Oosterlig is om die skool van krag tot krag te laat groei, bestaande tradisies te behou, en elke leerder se volle potensiaal te ontwikkel.

“Akademie is die as waarom alles draai, en dit is vir my belangrik dat ons daarna streef om ‘n 100% slaagsyfer in elke graad te behaal,” voeg sy by.

Buitemuurse aktiwiteite en die skep van ‘n veilige omgewing is ook vir haar van kardinale belang.

Mense wat ‘n invloed op haar beroep gehad het, is Awie van der Walt, Merci Lange, Pieda van Vreden en Nel.

Sy is ‘n sterk voorstaander van die gebruik van tegnologie in onderwys, veral as RTT-onderwyseres, maar is egter nie ‘n voorstander van sosiale media nie.

Myburgh se raad aan toekomstige onderwysers is duidelik: “Jy moet werklik ‘n passie hê om met kinders te werk. Jy moet ‘n onderwyser wil wees en die beroep nie net kies om ‘n salaris te verdien nie. Jy moet gemotiveerd wees om elke leerder te help om sy volle potensiaal te ontwikkel.”

Lees Ook: Geliefde meneer Nel tree af

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button