Banies leer baie tydens polisiedag
Verskeie polisie-eenhede die skool besoek het om hul werk te demonstreer.

Dit was ‘n opwindende en insiggewende dag by Laerskool Baanbreker toe die manne en vroue in blou die skool onlangs besoek het.
Verskillende eenhede van die polisie het op die dag by die skool uitgespan om vir die leerders te wys wat die eenhede almal doen.
Eenhede, insluitend die Ekurhuleni Waterpolisie, Ekurhuleni Flying Squad, Ekurhuleni K9 Search-and-Rescue, Ekurhuleni Tactical Team asook Black Ops, was deel van die verrigtinge.
Daar is foto’s geneem, en die leerders het aandagtig geluister na wat die polisiebeamptes gesê het.
‘n Hoogtepunt van die geleentheid was ‘n ‘rooftog’ wat die belanghebbendes uitgebeeld het, waar daar gewys is hoe die eenhede ‘verdagtes’ in hegtenis neem.
Selfs die polisiehonde het gehelp om die ‘verdagtes’ vas te trek.

Boksburg SAPD-skakelbeampte Sersant Ntsako Ledwaba het verduidelik dat die doel van die dag was om leerders in te lig oor polisiewerk.
“Kinders is in baie gevalle bang vir die polisie, en ons wil deur hierdie geleentheid vir die leerders wys dat ons nie die vyand is nie. Deur ‘n verhouding met hulle te koester, kan ons in die toekoms ook help om inligting oor verdagtes te kry. Baie kinders dink ons neem net verdagtes in hegtenis, maar ons doen baie meer as dit. Ons het byvoorbeeld ook eenhede met honde wat help om vermiste persone op te spoor,” het sy verduidelik.
Amy de Beer, ‘n leerder van Laerskool Baanbreker het gesê sy het baie geleer tydens die polisiedag.
“Ons het onder andere meer geleer oor wat die polisiehonde doen, en ons kon in die karre klim om te sien hoe dit werk,” het sy bygevoeg.
Lees Ook: Boksburg SAPS take stance against GBV


