Sport

United sukkel teen Meyerton

East Rand United gaan die Kempton Park Wolwe aanpak in sy volgende wedstryd op 15 Junie in Kempton Park.

Meyerton Knights het East Rand United 60-24 afgeransel voor sy tuisskare in Reiger Park in ‘n Valke Merlinliga wedstryd wat op 8 Junie uitgespook is.

Die tuisspan het in die eerste helfde goed gevaar en dit het geblyk of dit enige span se wedstryd kon wees.

Toe die fluitjie blaas vir die halftyd was die telling 17-10 in die besoekers se guns.
Volgens Shaun Johannes, hoof van die afrigters by die klub, het die manne se moed in mekaar gesak na Meyerton ‘n paar keer agter die doelpale gekuier het.

“Die span het goed gespeel tot in die laaste 20 minute van die wedstryd. Swak besluitneming van United se kant het hulle die wedstryd gekos.”

Ten spyte van die nederlaag, sê Johannes dat die span nie in sak en as gaan lê nie.
“Dit is nog vroeg in die seisoen en baie dinge kan nog gebeur. Naas Botha het al die punt gemaak dat die Currie Cup nie in Mei gewen word nie. Ons is in ‘n herboufase. Ons wil kyk om addisionele in te kry om die span te versterk,” het Johannes gesê.

Johannes het bygevoeg dat die klub steeds sukkel met ‘n gebrek aan hulpbronne en dat hulle borge benodig.

“Ons kry dit reg om ons verpligtinge na te kom, maar ons het die hulp van borge nodig om uitgawes soos brandstofkostes te dek,” het Johannes gesê.

Enige iemand wat die klub wil ondersteun kan vir Jimmy Davids kontak by 082 343 4257 of Llewellyn Wingson by 083 704 0997.

Also Read: ERU to take on Benoni in finals

Also Read: ERU vier oorwinning teen Heidelberg

  

 

Related Articles

Back to top button