Oud-Jansie gekies om Skotland te verteenwoordig
Die geleentheid om in die Sesnasiereeks te speel motiveer Van Wyk om hard te werk.
Cameron van Wyk, ‘n oud-leerling van Hoërskool Dr EG Jansen, het sy merk op die rugbyveld gemaak in Skotland, waar hy onlangs verkies is tot die land se groep vir die 2025 o20 Sesnasiereeks.
Die Boksburg Adverstiseer het meer gaan uitvind oor Van Wyk en sy loopbaan.
Van Wyk het verduidelik sy rugbyloopbaan in Skotland het begin met ‘n toer saam met Titans Rugby na Engeland in Desember 2022.
“Gedurende my tyd daar was ek raakgesien vir my potensiaal en hulle het kontak gemaak met my ma. My ma is in Skotland gebore, en dit het deure vir my oopgemaak. Gedurende my matriekjaar by Dr EG Jansen het ons in kontak gebly met die Scottish Rugby Union (SRU) en het gereeld beeldmateriaal van my spel aangestuur.
Wat het deur jou kop gemaal toe jy uitvind jy gaan in Skotland speel?
Ek het nog altyd om na ‘n professionele rugbyloopbaan gestreef. Met my Skotse voorgeslagte het ek geglo ek kan ‘n toekomspad vir my rugby oopmaak.
Ek het 25 Desember 2023 Skotland toe vertrek om saam my familie te bly en om by die Ayr Rugby Klub aan te sluit. Ek het geweet dat harde werk vir my voorlê, en ek was gelukkig om genooi te word om by die akademie te gaan oefen.
Ek kan nie jok nie, die onsekerheid het ook sy kop uitgesteek.
Jy gaan Skotland verteenwoordig by die sesnasies. Hoe voel jy hieroor?
Die sesnasies begin die kommende naweek, ek het verlede week gehoor dat ek span gemaak het vir die o20 Skotland span. Dit is definitief ‘n stap nader aan my droom, en gee motiveering om nooit op te hou om hard werk nie.
Daar is so baie dinamika, maar ek kry goeie oefening en ondersteuning van die spanbestuur en my spanmaats.
Ons sal maar sien hoe dit voel om voor so ‘n groot hoeveelheid toeskouers te speel.
Watter posisie speel jy?
Vleuel.
Wanneer het jy begin rugby speel en waarom het jy die sport begin speel?
Ek het al op vier jaar oud begin rugby oefen saam die Laerskool Witfield Valkie span. My ouer broer het op daardie stadium laat middag gaan rugby oefen, en van kleins af het ek saam geoefen.
My liefde vir rugby het net gegroei oor die jare. As rugby seisoen by die skool klaar was, het ek by Boksburg Uile klub gespeel.
Hoekom is jy so passievol oor rugby?
Van kleins af het ek net ‘n belangstelling gehad, en dit was/is in my bloed. Dit leer vir ‘n mens respek, disipline, selfvertroue en dankbaarheid. Ek het al so baie mense geleer ken deur die jare wat my as mens net sterker en beter gemaak het
Wie is gunsteling rugbyspeler? Kyk jy steeds op na Cheslin Kolbe?
Definitief, Cheslin Kolbe is my gunstelling.
Wat is jou raad aan aspirant rugbyspelers?
Moet nooit moed opgee op jou drome nie, gaan altyd voort om hard te werk, streef na die hoogste – en wanneer jy platgeslaan word, staan weer op en aanhou werk!
Die Here is my grootste held, ek hou die Here naby. ‘n Bybelvers wat ek na aan my hart hou is Filippense 4:13.
Also Read: Bring some Christmas cheer for the furry friends at Boksburg SPCA



