Cameron maak sy merk in Skotland
Dié rugbyspeler droom daarvan om eendag vir 'n nasionale span te speel.
Cameron van Wyk, oudleerling van Hoërskool Dr EG Jansen, het onlangs ’n kontrak losgespeel by die Glasgow Warriors Akademie.
Met harde werk, geloof en volgehoue toewyding, het hy dit reggekry om sy plek op ’n internasionale verhoog te verwerf.
Die Boksburg Advertiser het met hom gesels oor sy reis, hoe dit daar gaan en watter raad hy vir jong rugbyspelers het.
Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy kry ’n kontrak by die Glasgow Warriors Akademie?
Ek was ongelooflik gelukkig en kon dit nie glo toe ek die kontrak kry nie. Di is ’n droom wat waar geword het en die begin van my professionele rugbyloopbaan.
Wat beteken hierdie kontrak vir jou en jou rugbyloopbaan?
Dit beteken baie. Dit is ’n groot mylpaal en ’n goeie begin van hopelik nog baie dinge wat vir my voorlê in my rugbyloopbaan.
Hoe het jy by die akademie uitgekom – wat was die pad tot hier?
Ek het na Skotland gereis en aangesluit by Ayr Rugby Club. Ek het daar vir meer as ’n seisoen gespeel, en ‘n kontrak as ’n speler van nasionale belang gekry. Dit het vir my die kans gegee om deur die week saam met die nasionale akademie te oefen. Ek is raakgesien en het in die Sesnasies gespeel. Daarna het Glasgow Warriors my genader en gevra of ek saam met hulle wil oefen. Kort daarna is ek gekies vir die o20 Rugby Wêreldbeker, en na daardie toernooi het ek die kontrak by die Glasgow Warriors gekry.
Hoe gaan dit met jou in Skotland tot dusver?
Dit gaan goed! Ek geniet dit baie. Die enigste ding wat ek nie so geniet nie, is die weer – dit is glad nie soos in Suid-Afrika nie!
Wat is vir jou die grootste verskil tussen rugby in Suid-Afrika en Skotland?
Ek dink nie daar is ’n reuseverskil in die spel self nie, maar die weer maak beslis ’n verskil. In Skotland speel die weer ’n groot rol in hoe die wedstryde verloop. En iets snaaks is dat kinders hier nie weet van kaalvoet rugby nie. Maar rugby is goed aan beide kante. Glasgow Warriors het immers die URC gewen in 2023/24.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Definitief die kultuur! Ek mis die kos veral die braaikultuur, en natuurlik my familie en vriende. Dis moeilik om so ver van almal af te wees.
Watter deel van jou spel het jy al die meeste verbeter?
Ek het in alle aspekte van my spel gegroei, maar iets spesifieks waaraan ek hard gewerk het, is om in die lug te spring en hoë balle te vang. Dit is nou een van my sterk punte.
Wat is jou drome vir die toekoms in rugby?
Ek wil graag nog baie bereik in my rugbyloopbaan. Dit is ’n groot droom van my om eendag vir ’n nasionale span te speel en van daar af so ver as moontlik te vorder.
Wat is jou raad aan jong spelers wat ook ‘n loopbaan in rugby wil volg?
Glo in jouself en glo in die Here. Bly hard werk en moenie toelaat dat mense jou onderkry nie. As Hy vir jou ’n droom gee, is dit vir ’n rede.
Also Read: Oud-Jansie gekies om Skotland te verteenwoordig
Also Read: Northerns looking for female rugby players



