Phillip Schnetler verras met nuwe retro-pop enkelsnit
Sinoniem vir intiem is ’n lied wat jou laat glimlag, laat beweeg, en dalk selfs weer laat glo in daardie eerste vonk van liefde.
Phillip Schnetler van Eveleigh het reeds sy plek in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gevestig met indrukwekkende rolle in gewilde reekse soos Suidooster, Getroud Met Rugby, 7de Laan, en onlangs ook die verhoogproduksie van Semi-Soet.
Nou wys hy egter ‘n nuwe faset van sy talent, sy liefde vir musiek, met die vrystelling van sy nuwe enkelsnit, Sinoniem vir Intiem.
Hierdie opwindende nuwe liedjie, geskryf deur die liedjieskrywer Johan Vorster, is ’n lewendige retro 80’s pop-synth.
Dit kombineer aansteeklike energie met goedvoel-vibes en ’n tikkie nostalgie – ’n regte stemmingmaker wat luisteraars onmiddellik terugvoer na die glans van die 80’s-dansvloere.
Sinoniem vir Intiem vang perfek daardie unieke, opwindende gevoel vas van om iemand te ontmoet wat jou hele wêreld op sy kop keer. Phillip beskryf dit as ‘n lied wat vreugde en ontsnapping bring – musiek wat mense kan laat dans, sing, en sommer net goed laat voel.
“Ek wou daardie eerste verlief-raak-gevoel vasvang en dit met ’n groot 80’s-flair oordra,” het hy verduidelik.
Vir hom is hierdie enkelsnit meer as net ‘n nuwe lied. Dit is ’n betekenisvolle terugkeer na musiek.
“Ek glo mense smag na musiek wat hulle gelukkig maak en hoop gee. Sinoniem vir Intiem doen presies dit.
Musiekvideo neem kykers op ’n retro-avontuur
Die gepaardgaande musiekvideo is ’n visuele bederf vol kreatiwiteit en nostalgie.
In die video ontdek Phillip ’n ou 80’s-TV-speletjie en word hy letterlik ingetrek in ’n retrowêreld van gepiksileerde vlakke, ‘VHS-glitches’ en helder kleure. Soos hy deur die speletjie navigeer, is hy op soek na liefde – ’n speelse metafoor vir die tema van die lied.
Die eindproduk is ’n unieke mengsel van nostalgie en vars visuele styl wat beloof om kykers te boei en te betower.
Met hierdie nuwe enkelsnit wys Phillip nie net sy veelsydigheid as kunstenaar nie, maar bring hy ook iets besonders na die musiektoneel.
Lees Ook: Alba bring sokkie ritmes met enkelsnit
Lees Ook: Nuwe avonture wink vir Lu-Anél



