Annetjie neem leisels by Susan Badenhorst Voortrekkerkommando
Dié kommando, gestig op 22 Januarie 1980, is ‘n dinamiese jeugbeweging wat steeds groei.
Na meer as 30 jaar se diens is Annetjie Smit (67) weer die leier van die Susan Badenhorst Voortrekkerkommando.
Ná vyf jaar in Zambië en haar terugkeer in 2021, is sy vasbeslote om die kommando uit te bou en jong Afrikaanssprekende lede vir die toekoms toe te rus. Haar grootste doel vir die komende twee jaar: om die kommando se getalle te verdubbel deur sterker bemarking, groter sigbaarheid en dienslewering in die gemeenskap.
Smit se Voortrekkerpad het in 1989 begin toe sy haar twee dogters gaan inskryf het. “Wel, ek het toe bietjie langer gebly,” het sy vertel.
Lees Ook: Susan Badenhorst Voortrekker Kommando gee terug aan die gemeenskap
Haar 31 jaar diens sluit ’n lang termyn op die dagbestuur in, waarvan tien jaar as kommandoleier, voordat haar gesin in 2016 na Zambië verhuis het.
Vir haar is Die Voortrekkers ’n instrument om jong mense as dinamiese leiers te vorm. “Ons wil trots kweek vir wie ons is, waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is,” het sy gesê.
Nuwe projekte
Die kommando beplan, benewens kampe en uitstappies, ook ’n nuwe projek waarvan besonderhede binnekort bekend gemaak word. Hulle werk verder opgewonde voort na ’n groot mylpaal: hul 45ste bestaansjaar in Januarie 2026.
’n Leefstyl, nie net ’n byeenkoms nie
“Voortrekkers is net ’n uur ’n week, sê hulle – maar dit word ’n leefwyse,” het Smit vertel. Sy geniet die dinamiek van kampe, maar die kosbaarste vir haar is ontmoetings met oud-Voortrekkers en die stories van hoe die beweging lewens verander het.
Sy meen die Voortrekkers is sterk geposisioneer vir die toekoms. “Ons hoofbestuur is dinamies en hou tred met jongmense se behoeftes. Die kentekens en kursusse bly vars en innoverend.”
Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers geniet boeresportdag
Wanneer sy nie by die kommando werk nie, vind sy rus in die natuur en fotografie – iets wat sy graag met jong lede wil deel.
Die Susan Badenhorst Voortrekkerkommando vergader elke Maandag van 17:30 tot 18:30 by die NG Kerk Witfield in Lowtherstraat.
Vir meer inligting, kontak sbvoortrekkers@gmail.com



