Vroue en kinders in rowers se kloue
Vier vroue is verlede week saam met ‘n twee maande oue baba en ‘n vier-jarige kleuter vir langer as ‘n uur deur twee gewapende rowers aangehou, gedreig en beroof.
Die nagmerrie ondervinding, wat die vroue paniekbevange gelaat het, het verlede Donderdagoggend by ‘n huis in Hoylaan plaasgevind.
Frans van Aardt (44) het net na 7vm die huis verlaat om te gaan werk.
Sy vrou, Zelma (39), was in die huis maar het nie dadelik die voordeur gesluit nie, aangesien beide hul dogters Milandri (17) en Zelmari (20) op pad na die huis was.
Zelmari het eerste opgedaag met haar baba, Zelandrey (twee maande), en na haar kamer gegaan, waar sy met haar dogtertjie op die bed gaan lê het.
Sy het besef dat haar sussie nog op pad was en steeds die voordeur oopgelos.
Toe Milandri ‘n paar minute later by haar ouerhuis opdaag het sy by die voordeur ingegaan en na die kombuis beweeg, waar sy roosterbrood gaan maak het.
“Ek glo die twee rowers kon toe al reeds in die huis gewees het, of hulle het in die huis gesluip pas nadat Milandri ingegaan het,” het Zelma gesê.
Een van die booswigte het Milandri in die kombuis oorval en ‘n mes teen haar keel gehou.
“Milandri het uit die aard van die saak groot geskrik, na die man geklap en terselfdertyd na haar sussie se kamer gehardloop,” het Zelma vertel.
Zelmari, wat intussen aan die slaap geraak het, het wakker geskrik van die lawaai toe haar sussie en die rower in haar kamer kom.
“Ons het toe besef dat daar nog een was,” het Zelmari gesê.
“Die rowers het ons beveel om na my ma, wat steeds in haar kamer was, te gaan, en hulle het ons al drie op haar bed laat sit.”
“Ek het heeltyd gevra dat hulle net my baba vir my moet bring, maar hulle het gesê as ons nie doen wat hulle sê nie sou hulle my kind vat,” het Zelmari gesê.
Nadat die twee rowers die vroue se hande en voete vasgebind het, het hulle ook kledingstukke in hul monde gedruk.
“Terwyl ek nog kon praat het ek weer mooi gevra dat hulle my kind na my toe bring,” het Zelmari gesê.
Een van die rowers het die baba gaan haal en haar op Zelma se skoot geplaas.
Daarna het hulle ‘n kombers oor almal gegooi en hulle beveel om stil te bly.
“Ons kon agterkom dat die een rower heeltyd by ons in die kamer gebly het, terwyl die ander een deur die huis beweeg het,” het Zelma gesê.
Op die stadium net Zelma se ma, Veronica O’Neil (60), wat ook op die erf woon, niksvermoedend by die huis ingestap.
Een van die rowers het haar geryp en ook na die kamer geneem, waar haar hande met die gordel van ‘n kamerjas vasgebind is.
Minute daarna, het ‘n kleinkind van Veronica, Tyla Davis (4), kom kyk waar haar ouma draai.
Een van die booswigte het haar na ‘n kamer geneem en die deur toegemaak. Sy is nie vasgebind nie.
“Die mans was by tye dreigend en wou heeltyd weet waar my man is en wanneer hy huistoe sou kom,” het Zelma gesê.
“Een van hulle het gesê dat hulle gaan wag totdat hy by die huis kom.”
“Daar is ook aan ons gesê dat ons nie moet `smart’ wees nie, want dan gaan hulle ons seermaak.”
Na sowat ‘n uur en ‘n half, en nadat die rowers die roosterbrood geëet het wat Milandri gemaak het, het hulle aan die vreesbevange vroue gesê dat hulle weggaan, maar dat hulle weer sou terugkeer.
“Toe dit stil raak kon my ma daarin slaag om haar hande los te wikkel,” het Zelma gesê.
“Sy het gou die deur gaan sluit en ons het die toue waarmee ons vasgebind was met ‘n mes losgesny.
“Ons kon nie bel nie, aangesien ons almal se selfone gevat is, maar het ‘n buurvrou se aandag gekry, en sy het haar sekuriteitsmaatskappy laat weet.”
Die rowers het, benewens die vroue se selfone, ook talle huishoudelike items en klerasie, asook die baba se stootkarretjie geneem.
Die stootkarretjie is waarskynlik gebruik om die televisiestel en ander goed wat gebuit is weg te stoot.
Frans is woendend oor die voorval waar sy vrou, dogters, kleinkind en skoonma aan die genade van die rowers oorgelaat is.
“Dit was ‘n fout om nie die deur te sluit nie, maar dit gee vir niemand die reg om by jou huis in te stap en vroue so te dreig en te steel nie,” het hy gesê.
“Ons is wel heelwat van ons besittings kwyt, maar ons is baie, baie dankbaar dat niemand seergekry het nie,” het Zelma gesê.
“Die gevoel van magteloosheid, gepaardgaande met onsekerheid oor wat die rowers moontlik kon doen, was ‘n baie onaangename ondervinding vir ons almal.”



