Editor's choiceLocal newsNews

Daardie jas in die kas kan help

Almal dra graag ‘n jas wat netjies pas. Veral in die wintermaande, is ‘n lekker warm jas of baadjie die ideale kledingstuk om ‘n mens se liggaam teen die koue te beskerm.

Die Ondersteuningsraad van Brakpan het vanjaar besluit om, in plaas daarvan om komberse onder behoeftige mense te versprei, eerder te poog om jasse uit te deel.

“Baie van die mense wat onder ons vlerk is, is haweloos, en dit is nie vir hulle moontlik om hul besittings, soos ‘n warm kombers, die hele tyd op te pas of by hulle te dra nie, het Karien Keeve, maatskaplike werker van die Ondersteuningsraad, gesê.

“Ons wil kyk of ons vanjaar eerder warm baadjies, maar veral jasse, onder die mense kan verspei,” het sy bygevoeg.

“Die mense kan die kledingstuk gedurende die dag, wanneer dit koud is aanhou, en snags ook daarmee slaap.

”Natuurlik kan ons nie die projek sonder die hulp van die publiek aanpak nie, en ons vra baie mooi dat die mense van die dorp ons sal ondersteun.

Keeve het gesê dat mans- en vrouejasse baie welkom sal wees, maar ook kleiner jassies wat geskik sal wees vir kinders.

“Die publiek wat dalk nie ‘n jas het om te skenk nie, maar steeds ‘n bydrae wil maak, is welkom om ‘n kontantskenking te maak; dit sal ons in staat stel om jasse vir ‘n goedkoper prys by verskaffers aan te koop,” het sy bygevoeg.

Skenkings sal tot 25 Junie ontvang word, waarna die personeel van die Ondersteuningsraad die jasse aan mense, wat dit nodig het, sal oorhandig.

“Ons wil graag van die jas-projek ‘n sukses maak, maar ons sal natuurlik ook baie dankbaar wees vir enige ander warm klerasie en komberse,” het Keeve gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button