Editor's choiceLocal newsNews

Winter projek is goed op dreef

Die Herald pak elke jaar 'n winter-projek aan, in 'n poging om soveel moontlik komberse, sokkies, wolmussies, serpe en kouse bymekaar te maak.

Die projek is verlede week, weer in samewerking met VC Super Spar, in Dalview, afgeskop en binne die eerste paar dae het die poging reeds ‘n goeie hupstoot, danksy die goedhartigheid van twee besighede, gekry.

VC Super Spar het self ingespring en 20 komberse geskenk, en Marrigorra Protection Services het hulle voorbeeld gevolg en self 20 komberse in die mandjie geplaas.

Daarbenewens het die publiek ook al ‘n kombers of twee, asook ander warm items, geskenk.

“Dit is vir ons ‘n voorreg om elke jaar hierdie projek te ondersteun,” het Heindrich Beytendag, bestuurder van VC Super Spar, gesê.

“Ons is ten volle bewus van die nood daar buite en as ons, met die publiek se hulp, ‘n klein verskil kan maak, is ons gelukkig.

“Dit is die derde jaar dat ons betrokke is, en vanjaar wil ons belis ‘n rekord getal komberse insamel.”

Hy het groot lof gehad vir Martin Olivier, van Marrigorra Protection Services, wat ook 20 komberse geskenk het.

Martin, wat die eienaar van die besigheid is, het gesê dat dit vir sy onderneming belangrik is om die behoeftige mense van die dorp ook te ondersteun.

“Daar is baie mense daar buite wat swaar kry, en in die wintermaande word dit veral erger. Ek hoop die komerse wat ons geskenk het, iemand op ‘n koue dag of aand sal warm hou,” het Martin gesê.

Hy het ook ‘n uitdaging aan alle ander besighede gerig, om sy voorbeeld te volg.

Die items wat ingesamel word sal aan welsynsorganisasies van die dorp oorhandig word, waarna dit dan onder minderbevoorregte en behoeftige persone versprei sal word.

Dit is ‘n feit dat daar talle mense is wat gedurende die winter buite slaap, met min of geen komberse of warm klere om hul teen die snerpende koue te beskerm nie.

Alhoewel die winter nog nie in volle swang is nie, lê daar nog baie bitter koue dae en nagte voor.

In meeste huishoudings is daar ‘n kombers of duvet wat nie meer gebruik word nie. Daardie einste item kan gedurende die winter ‘n groot verskil in die lewe van ‘n behoeftige persoon maak.

Ons vra dat die publiek nuwe of skoon, gebruikte komberse, wolmussies, serpe en handskoene, asook nuwe sokkies (selfs gebreides) sal skenk.

VC Spar in Dalview het ‘n kollektepunt vir die projek beskikbaar te stel.

Daar is reeds ‘n mandjie in die winkel aangebring, en die publiek kan hul skenkings daar gaan aflaai.

Ons versoek vriendelik dat die goedere in ‘n goeie toestand en skoon sal wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button