CrimeNews

Parate inwoner skiet kapers

‘n 60-Jarige inwoner van Dalview het Woensdagmiddag koelkop gebly toe hy deur twee motorkapers oorval is, en sy optrede het daartoe gelei dat die kapers aan die kortse end getrek het.

Een van die booswigte is met ernstige beserings in ‘n hospitaal opgeneem, en sy makker, wat waarskynlik ook gewond is, word nog deur die polisie gesoek.

Die naam van die inwoner van Alexandreastraat is aan die Herald bekend, maar hy het versoek dat dit nie gepubliseer word nie.

Die man het aan die Herald gesê dat hy om ongeveer 12middag by die oprit van sy huis ingery het.

“Twee mans het my te voet genader en beveel om plat te gaan lê,” het die man gesê.

“Ek het gedoen wat hulle gesê het.”

Die twee kapers het in sy silwer kleurige Mercedes Compressor gespring en uit die oprit gery.

Terwyl die mans nog in die proses was om agteruit te ry, het die man, wat gewapen was, verskeie skote deur die voorruit van sy voertuig geskiet.

Die kapers het egter steeds daarin geslaag om weg te jaag.

Volgens inligting van die SAPD het die bestuurder, wat verskeie kere getref is, op die hoek van Athlonelaan en Tambotiestraat beheer oor die voertuig verloor en teen ‘n straatlig gebots.

Die gekaapte voertuig het tot stilstand gekom en die kaper aan die passesierskant het op die vlug geslaan.

Volgens ‘n ooggetuie het hy in die hardloop van sy handskoene ontslae geraak. Die moontlikheid dat hy ook gewond is word nie uitgesluit nie.

‘n Verbyganger wat onder die indruk was dat dit bloot ‘n ongeluk was het die kaper, wat steeds aan die bestuurderskant van die Mercedes gesit het, te hulp gesnel.

Volgens die polisie het die persoon gesien dat die man probeer om sy handskoene uit te trek, en ‘n vuurwapen is ook opgemerk.

Die paramedici en die polisie is toe na die toneel ontbied.

Die beseerde kaper is na ‘n hospitaal geneem, terwyl leidrade opgevolg word om sy makker vas te trek.

Die vuurwapen, wat in die voertuig gevind is, kan moontlik verbind word met ‘n gewapende roof wat ‘n paar weke gelede in ‘n naburige dorp plaasgevind het.

Die 60-jarige inwoner is nie beseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button