Diewe steur hul min aan sekuriteit, besigheid loop weer deur
Diewe het Dinsdag, in die vroeë oggendure, weer toegeslaan by Cover All Hardwarde and Building Supplies, in Anzac.
Die bestuur van die besigheid sit behoorlik met hul hande in hul hare oor die voorvalle wat, ondanks elke moontlike veiligheids- en sekuriteitsmaatreël , gereeld plaasvind.
Diewe het Dinsdaggend om ongeveer 12.30vm die draad van ‘n geëlektrifiseerde heining geknip en soedoende toegang tot die perseel verkry.
Twaalf batterye is uit vyf vragmotors en een laaigraaf gesteel. Die waarde daarvan is ongeveer R20 000.
“Die diewe het beslis goed voorbereid met gereedskap gekom, aangesien al die batterye (behalwe twee) mooi ontkoppel is,” het die bestuurder van Cover All, Wiekus Bothma, gesê.
Die Herald het in Maart en April vanjaar berig oor die besigheid se stryd met diewe en plunderaars. (Goeie sekuriteit hou diewe nie uit nie en Diewe stuit vir niks nie).
‘n Hoë palisade heining waarop geëlektrifiseerde draad aangebring is, sekuriteitswagte, -kameras, en –ligte asook versterkte mure is skynbaar nie genoeg om die skelms buite te hou nie.
“Die meeste van ons vragmotors het Dinsdagoggend almal gestaan en ons moes inderhaas planne maak om die aflewerings te akkommodeer,” het Bothma gesê.
Die voorval is by die Brakpan SAPD aangemeld.



