
Brakpan Polisie moedig inwoners aan om bedagsaam te wees teenoor hulle bure, na aanleiding van ’n toename in rusverstoring klagtes.
Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het aan die Herald gesê dat die stasie rusverstoring klagtes op ’n gereelde basis ontvang.
“Ons het onlangs ’n paar klagtes, van inwoners van Tweedy Park en die omliggende gebied, ontvang oor aanhoudende harde musiek en die konstante geraas van karre,” het Joubert gesê.
Hy het verduidelik dat die polisie die gesag het om oortreders in hegtenis te neem.
“Dit is ook nie beperk tot musiek en karre nie; skree, sing en die gebruik van masjinerie word ook beskou as rusverstoring,” het hy bygevoeg.
Klagtes kan enige tyd gerapporteer word en is nie beperk tot sekere ure nie.
As die polisie gekontak word, sal ’n waarskuwing uitgereik word.
As hulle weer gekontak word, vir dieselfde versteuring, het die polisie die gesag om die items wat die geraas veroorsaak van die perseel te konfiskeer, en die oortreders sal hul saak in die hof moet gaan stel om hulle besittings weer terug te kry.
’n Dossier kan deur die polisie oorhandig word aan ’n senior aanklaer, wat sal besluit oor die vervolging.
Lees ook:
Worship services cause a rumpus



