Opvolg: Dit gaan beter met erg beseerde tiener
Dit gaan baie beter met die 18-jarige Christo Venter, wat verlede Woensdag ernstig in ‘n motorfietsongeluk in Brenthurst beseer is.
Christo se ma, Petro Maartens, het gistermiddag (Maandag) aan die Herald gesê dat haar seun vandag (Dinsdag) operasies aan beide sy gewrigte, wat frakture opgedoen het, sal ondergaan.
Die tiener het Saterdagoggend ook ‘n operasie ondergaan om bloeding van sy brein te dreineer.
“Saterdag se operasie was suksesvol en Christo is later uit die intensiewe sorgeenheid verskuif na die hoësorgeenheid. Hy is gister (Maandag) oorgeplaas na ‘n gewone saal,” het Maartens gesê.
“Ons is baie dankbaar oor die vordering wat hy gemaak het,” het sy bygevoeg.
Volgens haar wil Christo net huis toe gaan.
“Hy was laas in die hospitaal toe hy vier jaar oud was en hy wil nou net huis toe.”
Maartens het ook vertel dat Christo Maandag saam met haar na die kafeteria gestap het, al het dit maar baie wankelrig gegaan.
Sy het ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat geld geskenk het vir die seun se behandeling. Sy mediese fonds dek slegs ‘n gedeelte en volgens Maartens is daar nog ‘n groot bedrag wat te kort skiet.
“Elke rand wat ons kry help en ons is ongelooflik dankbaar vir elke bydrae,” het sy bygevoeg.
Lees ook:
Onwaarhede oor ernstig beseerde seun ontstel
Hoërskool leerder in motorfietsongeluk beseer
Volg ons:



