Editor's noteLocal newsNews

Werklose hoor nie weer van motoris wat sy voet verpletter

Jan Botha, wat al vir sowat twee jaar by ‘n verkeerslig in Springsweg staan, om geld bymekaar te maak, is in Maartmaand, verlede jaar, deur ‘n motoris raakgery.

‘n 60-Jarige inwoner van die dorp, wat reeds gesukkel het om kop bo water te hou, se lewe het verlede jaar ‘n nare wending geneem toe hy deur ‘n motoris raak gery is.

Jan Botha is nietemin iemand wat elke dag dankbaar is. Hy tel sy seëninge en probeer hard om positief te bly.

Botha, wat al vir sowat twee jaar by ‘n verkeerslig in Springsweg staan, om geld bymekaar te maak, is in Maartmaand, verlede jaar, deur ‘n motoris raakgery.

Hy het ‘n fraktuur aan sy enkel opgedoen en kan nie meer normaal loop as gevolg van die skade aan sy voet nie.

Na die ongeluk is Botha na die Verre-Oosrandse Hospitaal geneem waar hy vir twee maande gewag het, voordat ‘n operasie uiteindelik op sy voet uitgevoer is.

Die nadraai van Botha se besering het veroorsaak dat hy vandag nie die normale gebruik van sy voet het nie en dat hy basies op die kant van sy voet moet loop.

“Ja, dit was vir my ‘n groot terugslag en ek leef elke dag in pyn maar die lewe gaan aan,” het Botha aan die Herald gesê.

“Ek moet ook maar loop tot waar ek wil wees en die voet werk nie elke dag so lekker saam nie.”

Hy vertel dat hy sy werk sowat twee jaar gelede verloor het, toe sy werkgewer mense afbetaal het.

“Ek was ‘n verkoopsverteenwoordiger en is baie bekwaam as dit by administratiewe werk kom. Ek sal steeds die tipe werk kan doen maar ek kry net nie werk nie,” het Botha vertel.

“Ek het darem ‘n dak oor my kop maar het geen ander keuse as om daagliks bakhand te staan nie.

“Ek maak gewoonlik genoeg geld om vir my elke middag iets voedsaam te koop om te eet.

“Die motoriste wat my ken is oor die algemeen baie goed vir my. Daar is baie goeie mense, wat nog omgee, daar buite” vertel Botha, terwyl trane in sy oë opwel.

“Ek wil nie meer lewe soos ek lewe nie maar wat kan ek doen?

“My voet het gesorg vir baie ellende en ek gaan seker vir die res van my lewe daarmee sukkel maar ek gaan nie in ‘n hopie sit en opgee nie.”

“Ek haal nog asem en ek lewe en daar is nog mense daarbuite wat omgee vir ander. Ek is dankbaar.”

Botha het gesê dat hy nooit weer van die motoris gehoor het, na die dag van die ongeluk nie.

Lees ook:

Motoris ry bedelaar raak

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button