Geen keer aan Brakpan skoonheid nie
2018 het goed afgeskop vir Tené Minderon (20), ’n suksesvolle model van Brakpan wat onlangs ’n gesogte titel en ’n stewige prys ingepalm het.
Tené van die Model Manifest Modelskool het gedurende September verlede jaar die skouer aan die wiel gesit en vir die Ultimate Wildcat Ambassador Search kompetisie ingeskryf.
Wildcat is ’n klere handelsmerk wat fokus op oefening en aanvullings. Die kompetisie word jaarliks gehou om die “gesig van die jaar” aan te wys en vanjaar het ongeveer 500 hoopvolle modelle ingeskryf.
Dertien finaliste, waarvan Tené een was, is uiteindelik aangewys en sy het met ’n prys van R7000 weggestap.
Die finaliste moes daarna die handelsmerk bevorder op sosiale media en bewys dat hul wel ’n rolmodel vir ander jong meisies kan wees.

Tené was suksesvol en is verlede naweek as die gesig van Ultimate Wildcat 2018 aangewys.
“Ek het glad nie gedink ek sou hierdie gesogte titel wen nie. Dit was ’n groot verrassing want enige een van die top vier finaliste het ’n ewe goeie kans gestaan om die titel te verower,” het Tené gesê.
Lees ook: Liesl Laurie joins Miss SA 2018 Gauteng judging panel at Carnival City
“Ek het besluit om vir die kompetisie in te skryf want dit is ’n groot kompetisie met groot pryse. Dit verbeter ook self-dissipline en deursettingsvermoë om ’n beter jy te wees.”
Haar pryse het die volgende ingeluit: R20 000 kontant, een jaar klere borgskap ter waarde van R25 000 en een jaar borgskap van @bodybywild ter waarde van R25 000. Sy sal ook in al die fotografie advertensie veldtogte van Wildcat verskyn.
Tené het met modelwerk begin toe sy maar drie jaar oud was en het vandag sowat 80 titels agter haar naam.

Sy is tans ook Miss Gauteng en Model van die Jaar 2017 by Model Manifest.
“Ek fokus nie regtig meer op pageants nie en meer op professionele modelwerk. Ek is deel van Ice Model Management en het al talle advertensie en tydskrif werk gedoen.
“Ek is gelukkig om die laaste tyd baie werk te kry in Johannesburg en Kaapstad.
“Ek is ook baie bevoorreg om een van die top drie te wees vir ’n nuwe kompetisie, The Look of SA,” het sy gesê.
Volg ons:



