Afriforum se buurtwagte bring hul kant
Die massapatrollie was daarop gemik om polisiëringsigbaarheid te verbeter.
AfriForum se Brakpan-, Alberton- Edenvale-, Germiston-, Springs- en Kempton Park-buurtwagte het Vrydagaand, in samewerking met die SAPD, gemeenskapspolisiëringsforums, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies in hul onderskeie gebiede, aan AfriForum se massapatrollie deelgeneem.
Die aksie het omstreeks 6nm begin en tot 6vm, Saterdagoggend geduur.
Altesaam 167 buurtwaglede het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 11 471km tydens 885 manure afgelê, teenoor 6 120km en 739 manure in April vanjaar. Die buurtwagte het 21 misdaadvoorvalle aangemeld.
Patrolleerders het by verskeie ongelukstonele in Alberton en Edenvale bystand gebied en dwelms is in Kempton Park, in samewerking met die SAPD, gekonfiskeer.
Lees ook: AfriForum hou massapatrollie
“Ten spyte van ekonomiese druk en die toename in brandstofpryse is dit merkwaardig om te sien hoe vrywilligers in die Oos-Rand steeds bereid is om self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem,” het Marie Naudé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand gesê.

“AfriForum-buurtwagte gaan voortdurend groter projekte in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies aanpak om misdaad te beveg en veiligheid te verbeter,” het Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek, bygevoeg.
Jy kan betrokke raak by AfriForum se buurtwagte. SMS “Buurtwag” na 45342. ’n SMS kos R1.
Volg ons:



