Mooi matrikulant raap gesogte titel op
Dalpark inwoner Karla Pienaar (18) het onlangs die titel van “The Look – South Africa 2018” opgeraap.
“The Look” is ’n gesogte landswye modelkompetisie waar daar gesoek word na die top fotografiese model in Suid-Afrika.
Modelle tussen die ouderdom van 14 en 26 kan deelneem en as deel van die kompetisie word deelnemers op eksotiese plekke in Suid-Afrika gepamperlang en gefotografeer.
Na die aanvanklike foto inskrywings is 10 deelnemers deur na die volgende fase waar hulle in Cullinan ’n fotosessie saam met ’n top internasionale ontwerper gehad het.

Die top drie finaliste is daarna aangewys en is vanaf 18 tot 22 Junie by Lion Hills Wildsplaas naby Vaalwater, Limpopo onthaal.
Hierna is Karla Pienaar as die wenner aangewys, en behalwe ’n kontantprys het sy ook ’n wintermode fotosessie by die Suid-Afrikaanse ski-oord, Tiffindell, gewen.
“Die baljaar in die sneeu, ski en kaggelaand kuier was ’n onvergeetlike ondervinding,” het Karla gesê.

Behalwe die blootstelling op sosiale media, gee die organiseerder van “The Look – South Africa”, John Filmalter, ook internasionale blootstelling aan die wenner van die kompetisie.
Lees ook: Brakpan skoonheid hou SA se naam hoog
Karla sê oor haar ervaring van “The Look” dat dit alles oor die passie gaan.
“Dit was ’n asemrowende en lewensveranderende ervaring,” het sy gesê.
“Ek voel nie net bederf deur alles wat die reis ingesluit het nie, ek het ook baie ondervinding as fotografiese model opgedoen.
“Om met iemand so talentvol soos die fotograaf John Filmalter van die beste mode ontwerpers en stiliste te werk was vir my ’n groot voorreg, leerervaring en goeie platform vir die pad vorentoe.”

Maar vir eers is dit vir hierdie plat-op-die-aarde Brakpan nooi terug na die realiteit van rekordeksamen en die matriek eindeksamen.
Karla is een van die top 10 akadmiese presteerders van Hoërskool die Anker en beplan om onderwys te gaan studeer.
“Ek wil steeds deeltyds modelwerk doen en hoop om met die blootstelling van “The Look” die modelagentskappe in Italië se aandag te trek,” het sy gesê.
Volg ons:



