Sakeliga sal sakelui bemagtig
’n Stigtingsvergadering om ’n Sakeliga in Brakpan op die been te bring is verlede Maandagaand by Medley House in Anzac gehou.
Sakeliga is ’n maatskappy sonder winsoogmerk, met die doel om plaaslike sakelui te bemagtig om gemeenskaplike kwessies, ten bate van die dorp, die gemeenskap, asook sakelui, aan te pak.
“Vanweë toenemende kommer onder Brakpan sakelui oor die toenemende ekonomiese verval, nasionaal en ook plaaslik, wat vierkantig voor die staat se deur gelê kan word, is die inisiatief geneem en in samewerking met, en in assosiasie met Sakeliga, om die Brakpan Sakeliga te stig,” het Samantha Labuschagne, tussentydse voorsitter en sameroeper van die Brakpan Sakeliga gesê.
Labuschagne het voorts verduidelik dat die Brakpan Sakeliga nou amptelik op die been gebring sal word en sy eie regsentiteit sal wees.
“’n Direksie met uitvoerende magte sal oor die volgende paar weke saamgestel word en sal as ingelyfde en geoktrooieerde lede van die nuwe regsentiteit dien, met die gepaardgaande regsaanspreeklikhede en finansiële magte,” het Labuschagne bygevoeg.
“Oor die volgende paar weke sal daar dus, in oorleg met plaaslike sakelui, oprigtingsprokureurs en Sakeliga ’n nie-winsgewende maatskappy opgerig word. Daar sal ook ’n basiese inligting- en finansiële stelsel geskep word, en ’n prioriteitslys van dringende aangeleenthede opgestel word.
“Uiteraard sal verskeie vergaderings in die nabye toekoms geskied, maar die volgende groot vergadering word vir vroeg 2019 beplan, waartydens die amptelike direksie bekendgestel sal word en die beplande veldtogte aagekondig sal word. Alles natuurlik met die oog om die maksimum impak te maak tydens Brakpan se eeufeesvieringe,” het Labuschagne verduidelik.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het die gehoor tydens die vergadering breedvoerig ingelig oor die historiese agtergrond van Sakeliga en die toenemende groei, wat tans 12 000 sakelui landwyd oorskrei. Die grondbeginsels sluit in staatsbestande ondernemings, kollektiewe bedingingsmag en ’n selfstandige sake-omgewing.
Sakelui wat meer inligting verlang kan in die interim vir Labuschagne per e-pos kontak by brakpan.sakeliga@gmail.com of telefonies by 082 925 3727.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



