Editor's choiceLocal newsNews

In die Kollig: Leer vir Attie hier ken

Leer die mense in jou dorp ken.

Attie Victor (48) is ’n talentvolle kunstenaar wat in Dalview woon. Hy is getroud met Joha (46) en die egpaar het twee kinders, Aniska (22) en Dandré (19).

Wanneer het jy begin teken en skilder?

Ek teken al van kleintyd af. In die hoërskool het ek meer aandag begin gee aan die fyner detail. Die laaste 25 jaar skilder en teken ek op ’n meer gereelde basis.

Is dit ’n stokperdjie of jou loopbaan?

Op die oomblik net ’n stokperdjie. Dit hou my uit die moeilikheid, soos my vrou sê.

As jy die tipe kuns wat jy beoefen moet opsom, wat sal dit wees?

Ek fokus op portretkuns en spotprente.

Watter onderwerpe skilder of teken jy die graagste?

Ek is mal daaroor om gesigte te teken en te skilder, hetsy dit nou ’n mens of ’n dier is. Ek hou daarvan om die fyn detail, wat kenmerkend van elke gesig is, vas te vang.

• Waar kry jy jou inspirasie vandaan?

Elke gesig is uniek. Elkeen het sy eie lewensverhaal. Mens kan dit soms in ’n gesig lees wanneer jy daarop konsentreer.

Is kuns iets wat mens kan aanleer of word jy met die talent gebore?

Ek glo kuns kan aangeleer word, maar wanneer jy gebore word met die gawe voel ek dat ’n mens dit wat jy voel makliker kan weergee.

Het jy ’n gunsteling stuk waarvan jy nooit ontslae sal raak nie?

Ja ek het, maar dis sketse wat my kinders geteken het en nie ek nie.

Van watter mediums maak jy gebruik?

Ek het al verskeie mediums gebruik. Ek werk deesdae meestal in potlood en ink. Olieverf bly egter my gunsteling.

Het jy van enige ander stokperdjies?

Ek hou van programmering en om PlayStation saam met my seun te speel.

Hoe lank woon jy al in Brakpan en wat vind jy uniek van die dorp?

Ek is al vir die afgelope 25 jaar ’n inwoner van die dorp. Die mense is uniek, want in ’n krisis kan jy altyd op hulle staat maak.

Waar hou jy graag vakansie?

Baie beslis by die see.

Kan jy kos maak en wat sal jy vir gaste kan voorberei?

Definitief braaivleis vir voorgereg, braaivleis vir hoofgereg. As daar plek is vir nagereg, nog ’n stukkie braaivleis.

Wat sal jou onmiddellik vies maak?

Mense wat ander mense nie hul plekkie in die son gun nie.

• Wat sal sorg vir ’n glimlag op jou gesig?

’n Lekker braai (wat anders) saam met familie en vriende sit altyd ’n glimlag op my gesig.

Kyk jy rugby en wie is jou gunsteling span?

Ek en my dogters is mal oor rugby. Al skree ons nie vir dieselfde span nie. Natuurlik is ek ’n Leeus ondersteuner.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Vir meer plaaslike nuus besoek Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button