Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Dinamiet kom in klein pakkies

Dié fyn lewenslustige blondekop presteer op talle gebiede en dit blyk dat daar absoluut geen keer aan haar passie vir die lewe is nie.

Die spreekwoord dat dinamiet in klein pakkies kom is baie beslis van toepassing wanneer dit by die 11-jarige Leandré Stander van Brakpan-Noord kom.

Alhoewel modelwerk haar gunsteling tydverdryf is, laat sy nie slaplê wanneer dit by haar skoolwerk of ander buitemuurse aktiwiteite kom nie.

Leandré Stander het die afgelope naweek die Miss Elite SA-titel in die ouderdomsgroep 11-12 gewen, asook nege ander kategorieë.

Die vreugdevure het die afgelope naweek hoog gebrand toe sy die Miss Elite SA-titel in die ouderdomsgroep 11-12 jaar voor die neuse van talle ander deelnemers opgeraap het.

Wat haar prestasie egter soveel meer merkwaardig maak, is die feit dat sy benewens die gesogte titel ook nege ander kategorieë gewen het.

Die kompetisie het vanaf verlede Donderdag tot Saterdag in Klerksdorp plaasgevind, met die room van die land se modelle wat daaraan deelgeneem het.

Die kategorieë wat Leandré ingepalm het, sluit in: beste aanddrag (evening ramp), beste gemaksdrag (casual wear ramp), beste geklee, Mej Persoonlikheid, Mej Sosiale Media, Mej Entrepreneur, Mej Fotogenies, Gauteng ambassadeur en beste aandenkings.

Leandré se ma, Melissa Palazzo, het gesê dat die kompetisie harde werk geverg het, maar dat dit ’n wonderlike ondervinding was en dat Leandré die vrugte gepluk het van harde werk.

Sy het in 2015 en 2018 die Miss Toddler and Tween of the World-titel gewen. Saam met haar is Valerie Begbie by wie sy afrigting ontvang het.

Sy het verduidelik dat die kompetisie eintlik oor ’n tydperk van sewe maande gestrek het.

“Gedurende dié tyd moet elke finalis skenkings vir welsynorganisasies bymekaar maak en daar was ook elke maand ’n uitdaging waarin die finaliste kon deelneem.

“Daar was, onder andere, die Nasionale Braaidaguitdaging waar die finaliste moes wys hoe hulle die dag vier.

“Dan was daar in Desember ’n uitdaging met die tema The Gift of Giving. Hiervoor het Leandré die bejaarde inwoners van Tweedy Park gaan besoek en tyd saam met hulle spandeer,” het Melissa verduidelik.

Voorts het Leandré ook nie-bederfbare kos aan haar skool geskenk en pak sy elke tweede week kospakkies vir die minderbevoorregtes.

In Januarie was die uitdaging om iets vir jou omgewing te doen. Leandré en haar sussie het rommel in die dorp gaan optel om sodoende die strate effens beter te laat lyk.

Sy het besoek gebring aan die bejaarde inwoners van Tweedy Park. (Die naam van die persoon in die foto is nie bekend nie).

Dié graad vyf leerder aan Laerskool Brakpan-Oos het met modelwerk op die ouderdom van vyf jaar begin.

Sy het al meer as 70 kompetisies gewen en een van die groot titels wat sy agter haar naam kan skryf is Miss Toddler and Tween of the World, wat sy in 2015 en weer in 2018 gewen het.

Sy was ook die National Supermodel RSA wenner in 2017 en 2018 en Miss Gauteng (in haar ouderdomsgroep) in 2017.

Leandré het vertel dat modelwerk vir haar baie lekker is.

“Ek oefen vyf dae per week en sorg altyd dat ek goed voorbereid is vir ’n kompetisie. My senuwees pla tog so bietjie voor ’n kompetisie, maar ek gee altyd net my beste,” het sy vertel.

Haar uitrustings is gewoonlik asemrowend en verskeie ontwerpers en kleremakers word vir dié taak ingespan.

Leandré se ouma, Theresa Wright, is ’n groot steunpilaar en sorg gewoonlik dat die mooiste uitrustings vir haar gemaak word. Wanneer Melissa nie beskikbaar is nie, spring ouma Theresa ook in om te sorg dat Leandré by al haar klasse uitkom.

Melissa vertel dat dit belangrik is om in die modelindustrie kritiek te kan hanteer en sy het van die begin af vir Landré geleer dat ’n mens nie altyd kan wen nie.

Leandré Stander het as deel van die kompetisie rommel in die dorp gaan optel. Haar sussie, Abigail Palazzo, het gehelp.

“Die oomblik wanneer Leandré van die verhoog of loopplank af klim weet sy dadelik wat haar kanse vir die dag is.

“Sy weet presies wanneer sy iets verkeerd gedoen het en dat die resultaat bepaal sal word deur hoe sy dit hanteer het.

“En ja, soms is dit ’n bitter pil om te sluk as sy nie wen nie, maar dan werk sy maar net harder aan haar foute,” het Melissa vertel.

“Baie mense dink dis ’n maklike ding om te doen. Trek net ’n rok en hakkies aan en daar gaan jy. Dis glad nie die geval nie.

“Leandré oefen bitter hard en daar is sekere reëls wat sy moet volg en sekere tegnieke wat sy moet leer.

“Dis regtig harde werk, maar sy geniet dit, en so lank as wat dit vir haar lekker is, sal ons haar ondersteun,” het Melissa gesê.

Modelwerk is egter nie al waarin hierdie talentvolle kind uitblink nie.

Behalwe vir haar passie vir modelwerk, is sy ook ’n bogemiddelde danser. Sy is dikwels in die kollig by haar dansskool, Visions Dans Studio.

Leandré is ook goed in drama en kry afrigting by Marita Esterhuyse.

Sy het onlangs die interne redenaarsuitdunne by haar haar skool gewen en beplan om weer vanjaar vir die Brakpan Kunswedstryd in te skryf; nog ’n aktiwiteit waarin sy groot welslae behaal.

Sy speel ook netbal vir haar skool en is in die skool se sanggroep ingesluit.

Asof dit nie genoeg is nie, bly haar akademie nie agterweë nie en dien sy ook op die top 10 akademiese span van haar graad.

“Ek hou daarvan om aan al hierdie dinge deel te neem. Dit hou my wel baie besig, maar ek maak ook tyd om te speel, veral saam met my sussie, Abigail (8),” het Leandré gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button