
’n Motordief wat Sondag ’n voertuig gesteel het, het nie rekenskap gehou met die eienaar van die voertuig nie en moes na ’n lang jaagtog te voet op die vlug slaan.
Jason Oosthuizen (23) het saam met familie by ’n huis in Kitzingerlaan op die stoep gesit en gesels toe hy gehoor het hoe sy Toyota Avante wegtrek.
Dit was in die oprit van die huis geparkeer.
Jason het saam met sy aanstaande skoonpa, Stoffel Kruger, in Stoffel se bakkie gespring en die dief agterna gesit.
“Ons was gelukkig om hom by die Stoffberg duikweg te gewaar en het agter hom aangejaag,” het Stoffel vertel.
Volgens hom het Jason intussen ook sy pa gekontak.
“Ons het ook ’n polisievoertuig gewaar en kon daarin slaag om die beamptes te laat stilhou waarna ons hul meegedeel het wat aangaan,” het Kruger vertel.
Lees: Motoris stel kinders se lewens in gevaar
Jason se pa het intussen opgevang en hy het verder saam met sy pa in die rigting van Alberton gery.
Die drama het uiteindelik in Thokoza tot ’n einde gekom toe Jason sy voertuig verlate gevind het.
Daar was geen teken van die dief nie.
Volgens Stoffel moes die dief met groot spoed oor ’n spoedhobbel gery het aangesien die enjin beskadig is.
“Jason-hulle het ’n merk aan ’n spoedhobbel gesien en toe die olie spoor tot by sy voertuig gevolg,” het Stoffel gesê.
“Die arrogansie van die dief om dit helder oordag te doen en etlike meters van waar ons gesit en gesels het is nogal verbysterend,” het Stoffel gesê.
“Mense moet maar kennis neem dat dit enige tyd en enige plek kan gebeur.”
Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



