
Ancel de Bruyn (13) is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Dalview. Sy woon saam met haar ouers, Annemie en Francois en jonger suster, Niané (9) in Dalpark Proper.
- Jy is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Dalview. Is dit ‘n doelwit wat jy vir jouself gestel het of was dit vir jou ‘n groot verrassing toe jy gekies is?
Dit is beslis ‘n doelwit wat ek vir myself gestel het, maar dit was ook ‘n groot verassing en ‘n eer om aangewys te word as Laerskool Dalview se hoofdogter
- Wat maak van ‘n mens ‘n goeie leier?
‘n Goeie leier lei deur ‘n goeie voorbeeld te volg.
- Die skooljaar het onlangs ‘n drastiese wending geneem. Weens Covid-19 is leerders nou vir baie lank by die huis en sal sommige steeds vir ‘n geruime tyd nie skool toe kan gaan nie. Wat het jy gedoen om besig te bly?
Rus was beslis bo aan my agenda na ‘n besige eerste kwartaal. Saam met my gesin het ons dinge gedoen waarvoor daar maar min geleentheid is, soos bak en brou, tuinwerk, speletjies saam gespeel, kreatiewe take verrig. Ons het ook ‘n nuwe baba hondjie bygekry wat baie vreugde in ons huis gebring het. Tussendeur het die skoolwerk ook aandag geniet.
- Baie kinders het nie toegang tot die internet en ander hulpmiddels om by te hou met skoolwerk nie; wat sou jou boodskap aan hulle wees?
Maak kontak met die skool. My skool is die beste omgee skool en die onderwysers is altyd bereid om te help. Daar sal definitief ook maats in jou graad wees wat jou sal kan bystaan. Saam sal ons net hoër hoogtes bereik.
- Soveel aktiwiteite, kampe en byeenkomste is gekanselleer en sal nie meer plaasvind nie. Voel jy dat jy ‘n ietwat “ingedoen” is deur die Koronavirus?
Definitief nie net ek nie, almal in my skool en al die leerders reg oor ons land, wat in verskillende fases van hulle skoolloopbaan is. Ek voel jammer vir elkeen van hulle. Soveel van ons aktiwiteite help ons, om as leerders te vorm en te groei, maar weereens glo ek die Here het ‘n plan met alles en die tyd wat ons saam ons gesinne spandeer is beslis vir my “priceless”.
- Dit is ‘n moeilike tyd vir almal in die land. Hoe bly jy positief?
Ek dank die Hemelse Vader vir my sterk ondersteuningstelsel by die huis. Ek het wonderlike ouers en ‘n sussie, oumas en oupas, tannies en ooms , niggies en nefies. Al kan ek hulle almal nie nou sien nie weet ek hulle is daar vir my en ondersteun my altyd. Waarvoor kan mens nou meer vra? Ek is in elk geval nie ‘n negatiewe mens nie en verkies om die positiewe in elke situasie te sien.
- Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?
Beslis ja. Die leiers van nou is ook die leiers van die toekoms. Nie almal is leiers op skool nie maar ek glo almal is ‘n leier in sy of haar eie reg. Almal word net op verskillende tye raakgesien.
- As jy vir een dag die President van die land kon wees, wat sou jy doen?
Ek sou ‘n towerstaf nodig gehad het as ek in een dag alles in ons land wou regmaak.
- Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?
Ek doen maar net altyd my beste in enige uitdaging. Wanneer daar wel ‘n teleurstelling is, is dit net menslik om emosioneel te voel, maar ek glo dis hoe jy ná die teleurstelling weer terugkeer wat saak maak. Ek probeer dus nie dat teleurstellings my onderkry nie.
- Wat is jou gunsteling kos?
Pizza, wie hou nou nie van ‘n lekker pizza nie?
- Aan watter kos sal jy nie jou mond sit nie?
Afval, glo my ek weet nie wat dit is of hoe dit proe nie, ek weet net dit ruik nie te wel as dit gaar gemaak word nie.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:![]()
![]()
![]()
![]()
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



