Local newsNews

Miniatuur trein-dorpie verstom

Bart Zaayman (71) versamel al vandat hy 10 jaar oud is model treine.

Bart Zaayman (71) versamel al vandat hy 10 jaar oud is model treine. Hy het ‘n uitleg gebou met ongelooflike detail wat selfs ‘n hele miniatuur dorpie insluit.

Sy vriende sê gereeld dat mens omtrent twee ure nodig het om al die fyn detail raak te sien. Dit sluit in die klein begraafplasie in die een hoek, die wingerd, plakkershuis, boontjielande en vele ander klein dingetjies.

Daar is ou blik waentjies en trokkies (tin plate models) wat nog in ou Wes-Duitsland vervaardig is en meer moderne plastiek treine in sy versameling.

Hoewel die Trans-Karoo waens hom vyf of ses rand gekos het per waentjie toe hy dit gekoop het kan dit nou maklik R500 of R600 kos per waentjie.

Model treine is ‘n enorme stokperdjie, veral in Europa. 3D-drukwerk het egter veroorsaak dat die kuns van modelbou nou besig is om dood te loop.


LEES OOK: Groot lof vir toegewyde wetstoepasser


Die Suid-Afrikaanse spoorweë het eens ‘n modelbou afdeling gehad wat modelle en uitlegte gebou het vir groot geleenthede soos die Randse Paas Skou.

Ongelukkig is die Suid-Afrikaanse Spoorweë dood en baie jongmense weet nie eers wat ‘n modeltrein is nie, dus is daar weinig belangstelling.

Die Eastrand Model Railway Interest Group (EMRIG) stal gereeld uit by die Northmead Mall inkopiesentrum. Die volgende ‘swapmeet’ waar modelle uitgeruil, verkoop of uitgestal kan word is op 25 Februarie.

Die EMRIG Facebook blad kan gevolg word om hierdie datums en plekke te kry.

Vir Bart is dit moeilik om vas te stel wat die waarde van sy miniatuur treinuitleg is, omdat hy van die geboue en strukture self gebou het en die res versamel het oor die dekades. Die uitleg self is ongeveer vyftien jaar oud.


LEES OOK: Hoërskool die Anker verwelkom nuwe Graad Agt leerders


Van die treine het hy as skenkings ontvang vir hulp met planne van geboue of strukture wat hy aan model bouers voorsien het tydens sy loopbaan by TransNet.

Ander het hy verniet gekry, soos ‘n miniatuur perdekar wat ‘n modelwinkel vir hom gegee het omdat niemand dit wou koop nie. Die perdekar is baie fyn en gedetaileerd en was baie moeilik om te bou en te verf.

Van die geboue in die miniatuur dorpie sluit ‘n skaal silo, soos die die een wat nog in Potchefstroom staan, NG Moederkerk Benoni, hotel Victoria in Fishguard Walles en die Luderitz lighuis in.

Die kasteel en die Cashbah padkafee het hy self ontwerp en gebou uit karton, hout en plastiek. Die Engelse dorpie se huisies en winkeltjies is gekoopte, basiese stelletjies wat gedruk en gesny is en net aanmekaar gesit word.

Daar is selfs ‘n spoorbaan onderstopmasjien met operateur se tentjie en ‘n klein bola, ‘n lemoenboord en hawe met dolfyne en ‘n pylstert vis (stingray), ‘n klein lughawe met aanloopbaan, brandweerstasie en ‘n radartoring waarvan die skerm draai en ook ‘n lighuis waarvan die lig draai.


Die Victoria hotel in Fishguard, Walles, se skaal model.

Bart se eerste trein wat hy as kersgeskenk in 1960 ontvang het loop steeds. Die duurste lokomotiewe is die Duitse Fleishmann lokomotiewe wat nie meer deur winkels ingevoer word nie en mense wat dit wil versamel moet dit self invoer.

Vir mense wat nuut is in die stokperdjie sê Bart, “Dis nie moeilik om modelle te kry nie. As jy weet waar om te soek is dit maklik om te kry.”

Bart is nie spyt oor enigiets wat op die model is nie, maar is wel spyt oor dinge wat nie op die model is nie. Dit sluit goed in wat hy verloor het of weggegee het.

Sy huidige projek is om ‘n ou ‘cowboy trein’ bymekaar te maak. Hy ken versamelaars met 600 lokomotiewe en ander wat tot 3 000 items in hulle versamelings het.

Iets waaroor hy ongelukkig is, is al die modelle en miniatuur komponente wat fantastiese detail bevat, maar alles met 3D drukwerk vervaardig word.


Die voorste trein is Bart se eerste model trein in sy versameling.

Dit maak hom hartseer dat mense nie meer modelle met die hand kan bou nie en dit ‘n skaarse talent is wat besig is om uit te sterf.

‘n Spesiale ‘rerailer’ word gebruik om die treine se wieletjies reg op die spore te plaas. Die wiele is ongelooflik klein en fyn en as dit nie reg op die spoor geplaas word nie, ontspoor die trein.

Die hele stel is bedraad en word van ‘n paneel af beheer. Vir nagtonele word die ligte afgeskakel en honderde liggies in geboue, aanloopbaan, strate en plase aangeskakel.

Die uitleg is in HO skaal (1:87), wat die algemeenste is, N Skaal (1:159) is kleiner en Z skaal (1:220) is piepklein en vereis baie goeie oë. Groter as HO is OO (1:76.2), daarna volg G skaal (1:22.5) of sogenaamde garden scale. Groter as G is buitenshuis en vir die ‘live steam’ manne.

Wanneer die stel nie gebruik word nie, word dit toegemaak met plastiek om dit te beskerm teen stof. Bart beplan om dit weer op te slaan vir die paasnaweek.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button