Ongeluk in Prince Georgelaan eis jong man, nog drie beseer
’n Roudiens word vandag (Donderdag) om 12:00 vir Mikael Stibor gehou vanuit die NG Kerk, Moedergemeente te Victoriastraat.
’n Ongeluk wat Saterdagaand net na 20:00 in Prince Georgelaan, reg oorkant die BP Vulstasie plaasgevind het, het die lewe van ’n 25-jarige man geëis terwyl nog drie mense beseer is.
Mikael Stibor (25) van Huntingdon is op die toneel oorlede nadat die donker blou Hyundai Getz, wat hy bestuur het, met ‘n aankomende voertuig in die teenoorgestelde baan gebots het.
Marlize Wilkins (19) ook van Huntingdon, wat saam met hom in die voertuig was, het beserings aan onder andere beide haar heupe, pelvis, skouer, linkerhand en kakebeen opgedoen.
Sy word tans in die Verre-Oos-Rand Hospitaal behandel. Haar ma, Marlene Swanepoel het Woensdag gesê dat dokters nog besluite neem oor moontlike operasies wat Marlize sal moet ondergaan.
BJ Stibor (56), die pa van die oorledene het gesê dat daar baie onbeantwoorde vrae is, maar dat ’n deeglike ondersoek hopelik lig op die oorsaak van die ongeluk sal werp.
“Ek was by die huis toe ek ’n oproep van ’n vriend, wat by die Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) betrokke is, ontvang het. Hy het vir my gesê dat daar slegte nuus is en dat hy my dadelik gaan kom oplaai.
“Ons is saam na die ongelukstoneel terwyl Mikael se stiefma, Adrie Croucamp, in ons voertuig, gevolg het. Dit was ’n groot skok en baie moeilik om daar te wees,” het hy bygevoeg.
’n Roudiens word vandag (Donderdag) om 12:00 vir Mikael Stibor gehou vanuit die NG Kerk, Moedergemeente te Victoriastraat.
Die toestand van die twee insittendes van die voertuig wat deur Stibor se Hyundai Getz getref is, is nie bekend nie.
Die Brakpan SAPD het bevestig dat ’n saak van strafbare manslag ondersoek word.
LEES OOK: Driver hijacked after stopping to urinate
LEES OOK: Hijackers take R1.1m BMW and its owner