Toestand by die begraafplaas kwel
Daar lê oral hope tuin vullis en ander rommel rond en dit is duidelik dat mense dit bloot daar weggooi.

‘n Gesin van Anzac wat gedurende Desember die Brakpan Begraafplaas besoek het was verslae oor die toestand van die plek. ‘n Reuse boom wat omgeval het op grafte, is net so gelaat.
Dit was net een te veel vir Barbie Nagel (78) en haar mense. Die gesin het op Kersdag groot dele van die boom opgesny en verwyder.
“Dit is nie aanvaarbaar dat dit net so gelaat word nie,” het Barbie gesê.
Haar man is 13 jaar gelede aan kanker oorlede en is in die Brakpan Begraafplaas begrawe. Wat die gesin egter meer bekommer is die feit dat sommige lede van die publiek nou die begraafplaas gebruik om vullis te stort.
“Daar lê oral hope tuinvullis en ander rommel rond en dit is duidelik dat mense dit bloot daar weggooi,” het Barbie gesê.
“Die Brenthurst mini stortingsterrein is reg by die begraafplaas. Waarom kan mense nie maar die moeite doen om daar van hul rommel ontslae te raak nie?
“Dit is vir ons hartseer om te sien dat die begraafplaas nou gebruik word as ‘n vullisterrein. Dit is ook kommerwekkend dat dele van die muur, wat die begraafplaas omhein plek-plek verwyder of gebreek is,” het Barbie gesê.
“Daar is juis geen toegangbeheer of behoorlike hekke nie en nou is daar ook gate in die omheining. Dit is ook duidelik daar was lank laas enige vorm van instandhouding gedoen.
“Sommige grafte is nie sigbaar nie, weens lang gras en onkruid wat welig groei,” het sy gesê.
“My gesin het hard gewerk op Kersdag om die boom gedeeltelik te verwyder maar ons het gevoel dit is die regte ding om te doen.”
Die Herald het kommentaar van die Stad van Ekurhuleni oor die begrafplaas navraag ontvang. Die koerant het onder andere gevra wat die boete vir onwettige vullis storting is, of die gemeenskap kan betrokke raak en hoe?
LEES OOK: Schools see high police visibility during back-to-school campaign
Die kommentaar van die Ekurhuleni woordvoerder Zweli Dlamini was, “Die stad/departement is nie bewus van die onwettige storting nie en weet nie hoe lank dit al aan die gang is nie.
“Ons het ondersoek ingestel en kan bevestig dat die rommel nie binne die begraafplaas is nie, maar wel buite. ‘n Span sal binnekort die saak hanteer. Geen spesifieke boetes is nog uitgereik vir hierdie onwettige storting nie, maar onwettige storting dra ‘n boete van tot R2 000.
Oor gemeenskap betrokkenheid sê Dlamini, “Die gemeenskap kan betrokke wees by die instandhouding van die begraafplaas deur ‘n opskerpingsveldtog. Om dit te laat gebeur, moet die omgewingsdepartement (Environment Department) betrek word vir toestemming en monitering van die proses.
“Daar lê ‘n verantwoordelikheid by die gemeenskap en maatskappye om hierdie onwettige praktyk stop te sit. Ons het almal ‘n rol om te speel in die beskerming van ons omgewing.
“Die wêreld worstel vandag met die kwessie van klimaatsverandering as gevolg van sulke onverantwoordelike aktiwiteite, wat die stad met minagting ontmoedig. Dieselfde geld die vandale wat grafte teiken vir allerhande siek redes,” sê Dlamini.
LEES OOK: Brakpan SAPS confiscates over 200 liters of alcohol from illegal outlets