Gemeenskap hou kerslig-waak ná tragiese dood van vierjarige in huisbrand
Daar is in ‘n hartseer atmosfeer hulde gebring aan die seuntjie wie se lewe te vroeg geëindig het.
Die gemeenskap het Sondagaand in ’n somber atmosfeer die ouers en nabye familie van Wanru Meyer bygestaan tydens ’n kerslig-waak wat gehou is voor die huis waar hy verlede Sondagoggend gesterf het.
Die vierjarige seuntjie is dood toe ’n brand in sy ouerhuis in Queenlaan uitgebreek het. Hy het saam met sy jonger boetie Caleb (2) in ’n kamer geslaap toe die brand ontstaan het.
Sy ouers, Armand Meyer (23) en Makayla Strauss (22), kon daarin slaag om met Caleb uit die brandende huis te ontsnap.
Blomme, kerse, kruise, rooi en blou ballonne, en sagte speelgoed is voor die deur van die huis geplaas. Die publiek kon ook geskrewe boodskappe in ’n houer plaas.

’n Brandreuk was steeds teenwoordig terwyl geliefdes en belangstellendes elk op hul eie manier hulde gebring en simpatie betoon het.
Armand het op sy knieë gegaan om kerse en blomme te rangskik rondom wit letters wat die naam van sy kind uitgespel het.

Voordat daar met skriflesing en gebed voortgegaan is, is ’n spesiale lied afgespeel en lede van die GPF het ’n erewag gevorm terwyl hulle kerse in hul hande gehou het.
’n Emosionele Armand en Makayla het mekaar vasgehou. Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.
LEES OOK: KYK: Laerskool Die Arend sluit kwartaal met vrolike markdag af
LEES OOK: Tips and pitfalls of reporting sexual offences to the police




