Local newsNews

Brakpan inwoner vertel hoe om oud te word sonder om oud te voel

Sy het op 12 Julie die besondere mylpaal gevier met haar groot familie.

In Brenthurst woon ‘n 90-jarige vrou met vlymskerp oë, ore en brein. Haar naam is Anna Johanna Cilliers (née Swartz) en sy woon al sedert 1955 in Brakpan.

Anna se geheim om goed oud te word, is om gesond te bly, na jouself te kyk en die lewe ten volle te geniet. Sy het haar oorlede man, Andries Stockstôrm Cilliers, deur briewe leer ken – as ‘n regte outydse “pen pal” – nadat sy ‘n advertensie in die koerant geplaas het omdat sy eensaam was.

Sy het destyds nog in die Kaap gebly en in die Conradie Hospitaal in Kaapstad gewerk. Sy en Andries is op 17 Desember 1955 getroud, nadat Andries haar pa per brief om toestemming gevra het. Anna het daarna opgepak en Brakpan toe getrek.

Na hul troue was Anna ‘n huisvrou. Hulle het saam ses kinders gehad, wat gegroei het tot 20 kleinkinders en 29 agterkleinkinders.

Anna hekel en brei graag as stokperdjie. Onlangs het sy vir haar agterkleinkind ’n massiewe teddiebeer gebrei, en sy is tans besig om klere daarvoor te brei en hekel.

Sy hekel en brei sonder patrone, gewoonlik net uit haar kop uit. Sy het al ’n trui gebrei vir iemand in ’n ander provinsie – met net ’n foto om sy grootte te skat – en dit het perfek gepas.

Sy is heel tevrede met haar lewe en het al alles probeer wat sy kan.


Anna Cilliers met die groot teddiebeer wat sy vir haar agter-klein kind gebrei het. Foto: Charma du Plessis.

“My hande kan nie stil staan nie,” het sy vertel.

Sy het al selfs meubels oorgetrek en so ver as die Laeveld gereis om in Pelgrimsrus na die watervalle te gaan kyk.

‘n Hoogtepunt in Anna se lewe was die verrassingspartytjie in Laerskool Die Arend se skoolsaal op 12 Julie. Haar groot familie was almal daar; die hele saal vol.

Sy het ook al ‘n vertoning van Manie Jackson bygewoon, wat haar asem skoon weggeslaan het. ‘n Groot laagtepunt aan die ander kant was toe sy haar man en drie seuns kort na mekaar aan die dood afgestaan het.

Dit was vir haar baie moeilik, en sy verlang nog elke dag na hulle. Hoewel Anna nog nooit in die buiteland getoer het nie, is sy heel tevrede daarmee om dit mis te loop.

“Ek glo nie ek sal wil oorsee toer nie. Ek wil wel nog graag by my jongste sussie in Malmesbury gaan kuier,” het sy vertel.

“Sy is al wat ek oor het. Beide my ouers en my ander suster is reeds oorlede. Ons gesels baie oor die foon, en sy is self al in haar tagtigs,” sê sy. Anna se suster is Maria Patronella Dippenaar.

Toe sy gevra is hoe dit voel om 90 te bereik, het Anna vertel dit voel vir haar nog net dieselfde.

“Ek het nooit gedink ek sal hier uitkom nie. Die liewe Vader het my tot hier gehelp, en ek is baie dankbaar daaroor. Ek is nie sieklik nie, my oë en ore is nog baie goed, en ek loop nog die hele wêreld vol, net met iets om op te steun. Die lewe behandel my goed,” het sy mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button