Muriel Brand se nuwe adjunkhoof sien uit na die pad vorentoe
Tommy Momberg sien daarna uit om die skoolgemeenskap te leer ken en saam met personeel en ouers te werk om elke leerder die beste moontlike opvoeding te bied.
Tommy Momberg, voormalige departementshoof van akademie vir Graad 4 tot 7 by Laerskool die Arend, is onlangs aangestel as adjunkhoof by die Muriel Brand Skool.
Hy vertel dat hy veral daarna uitsien om al die leerders en hul ouers te leer ken en saam te werk om die beste, holistiese opvoeding vir elkeen van die leerders te bied.
“’n Mens se kind is tog jou kosbaarste besitting en dit is vir my ’n voorreg om elke dag met hulle te kan werk,” het hy bygevoeg.
Die besluit om die pos te aanvaar het gekom weens die feit dat elke liewe persoon verbonde aan Muriel Brand, volgens
Tommy, ’n omgee-hart het en uit en uit ’n verskil wil maak in die leerders se lewens. ’n Verskil, sê hy, wat nie noodwendig in ’n normale hoofstroomskool so maklik gemaak kan word nie. Sy visie vir die skool is om die skool se visie presies na te leef.
“’n Visie waar elke leerder gewaardeer voel, geïnspireer is en ondersteun word in ons skool. Ek glo dat, deur hierdie resep te volg, ons as skool die leerders kan voorberei om hulle uit te stuur in die ‘grootmens’-wêreld,” verduidelik hy.
Tommy streef daarna om die skool en onderwysers by te staan in elke aspek van die skool; vanuit ’n bestuurs-, klaskamer- of selfs net ’n raadgewende hoedanigheid.
“Ondersteuning van personeel en om hulle hande te versterk in hul dagtaak, is vir my baie belangrik,” het hy gesê.
“Dit verseker gelukkige onderwysers, en gelukkige onderwysers kweek gelukkige kinders,” het hy bygevoeg.
Soos vir enigeen is groot verandering vir Tommy vreesaanjaend, maar hy is ook opgewonde om met aspekte en gespesialiseerde afdelings van die onderwys te werk wat nie in hoofstroomskole beskikbaar is nie.
Sy vyfjaarplan is om eers bekend te raak met die rol en verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan, en om daarna elke taak en portefeulje wat onder hom geplaas word, tot die beste van sy vermoë te lei en te bestuur. Hy beoog ook om by soveel moontlik aktiwiteite regdeur die skool betrokke te raak.
LEES OOK: Purrfection on parade at Gauteng Top Cat competition
“Deur betrokke te wees, leer ken jy die binnewerke van enige instansie en hoe elke afdeling funksioneer. Dit skep ’n goeie prentjie, veral vir ’n nuweling, van hoe elke stukkie van die legkaart bymekaar pas,” het hy gesê.
“Ek gaan ook klas gee waar ek Engels vir die Graad 7-leerders sal aanbied.”
Dit waarna hy gaan verlang van sy tyd by Die Arend, sê hy, is te veel om te noem.
“Ek gaan beslis die mense en leerders van Die Arend mis. Dit is ’n skool met besondere mense wat die laaste 12 jaar soos my familie geword het.
“Die skool het ’n manier om deel van jou DNS te word. Die Aries kan enige taak of uitdaging wat gestel word, aanpak en dit sommer lekker maak,” sluit hy af.



